Binneshuise aksiekrieket maak binnekort sy buiging in Heidelberg
Die groot idee is om die gemeenskap weg te kry van hul selfone en rekenaars, en om mense aan te moedig om meer aktief te wees.
Sportliefhebbers in Heidelberg en Nigel kan uitsien na ’n opwindende toevoeging tot die plaaslike sporttoneel: binnenshuise aksiekrieket.
Leon Snyman staan aan die stuur van dié nuwe inisiatief en beplan ’n reeks sosiale en liga-wedstryde, asook gereelde samekomste.
Die visie is om ’n wye verskeidenheid spanne te akkommodeer, insluitend o40’s, oor-40’s, ope afdelings, vroue-, gemengde- en besigheidsligas, asook laer- en hoërskoolspanne.
“Ons gaan op tye kwaliteit-afrigtingsessies aanbied wat alles insluit van beginners tot gevorderde krieketspelers,” het Snyman gesê. “Ons beoog ook om weer deel van Easterns Krieket te word.”
Snyman beplan om verskeie skole in Heidelberg en Nigel te nader om leerders aan te moedig om deel te neem en spanne in te skryf.

Die groter doel is om die gemeenskap meer aktief te kry.
“Te veel jong mense kruip deesdae agter selfone en rekenaars weg sonder om aan aktiewe sport deel te neem. Ons wil dit verander,” voeg hy by. “Binnenshuise aksiekrieket kan ook help met spanbou, om nuwe vriende te maak en sosiale interaksie aan te moedig.”
Daar is ook planne om in die toekoms binnenshuise aksienetbal op dieselfde baan aan te bied.
Vir navrae of om ’n span in te skryf, kontak Leon Snyman by 084 322 4061.



