Familie gedenk geliefde seun twee jaar ná sy afsterwe sonder enige afsluiting
Twee jaar nadat Dylan Bothma op wrede wyse van die lewe weggeneem is, is sy familie steeds sonder antwoorde maar nie sonder liefde nie. In trane en herinneringe het hulle dié geliefde jongman op 24 en 25 Junie vereer.
Dylan Bothma is op 25 Junie 2023 op ‘n wrede en onverklaarbare wyse van die lewe weggeneem, ná hy die vorige aand ‘n verjaarsdagpartytjie bygewoon het.
Twee jaar later is die pyn steeds rou, die vrae onbeantwoord en die ondersoek na sy dood duur voort.
Tog leef die jongman in die harte van baie mense voort.
Op 24 Junie het Dylan se familie by die kruis op die Suikerboskoppie byeengekom en die volgende dag, die presiese herdenking van sy dood, het hulle in AG Visserstraat by die gedenkkruis wat vir hom opgerig is, stilgestaan – in trane, gebede en in liefde.

Dit was twee dae gevul met rou en refleksie. Maar dit was ook twee dae van innige verbondenheid waar die stilte van verlange harder praat as enige woorde ooit kan.
Dylan se teenwoordigheid, al is dit nie meer tasbaar nie, leef voort in elke hart wat hom geken en liefgehad het.
Tussen trane, gebroke stemme en hande wat mekaar vashou, is die volgende huldeblyk aan Dylan opgedra:

“Ons seun, ons boetie, ons vriend, Dylan Bothma. Twee jaar gelede het ons iets verloor wat nie vervang kan word nie. Jy het net eenvoudig nie weer huis toe gekom nie. Jy het die lig in ons huis gedra en nou is dit donker.
“Boetietjie, elke dag besef ons net hoe groot die leemte is wat jy agterlaat. Die pyn het nie minder geword nie; dit steek dieper en dit sny skerper. Ek mis jou groet van ‘hello my mooiste tannie’.
“Ek mis jou grappies, jou spontane lag, jou liedjies wat jy vir my geskryf het, klein stukkies van jou siel wat jy met ons gedeel het. Poepsak, ek mis jou. Ons huis voel leeg en stil sonder jou.

“Jy was nie net ons kind nie, jy was ons vreugde, ons anker, ons sonskyn. Jou liefde vir musiek, jou passie vir jou kitaar, dit weerklink steeds in ons gedagtes. Jou lewe is op die wreedste manier van jou af weggeruk. Die wêreld het ‘n lig verloor.
“Ons sal nooit ophou vra vir antwoorde nie. Ons sal nie rus voor daar geregtigheid is nie. Maar bo alles, ons sal jou altyd en vir ewig liefhê.”

Die familie se rou is nie net oor die verlies van ’n lewe nie, maar oor die verlies van beloftes, drome en oomblikke wat nooit sal wees nie.
Dylan was ‘n kind van die lig, ‘n musiekliefhebber, ‘n vriend met ’n sagte hart, en nou is daar net herinneringe, ‘n kruis en verlange wat nie swyg nie.

Hy was geliefd, hy word gemis en hy sal nooit vergeet word nie.
LEES OOK: Dylan Bothma se lewe word herdenk, familie steeds in duister oor sy dood



