Netbal-Volkies kry goeie ondervinding
Volkskool netbal stêrre bedrywig gedurende die vakansie.
Volkskool se netbaldogters het tydens die skoolvakansie gewys waartoe hulle in staat is.
Suné Barnard (o18) was deel van die Gauteng Jaguars wat aan die nasionale Telkom Netballiga deelgeneem het.
Hierdie is ’n senior liga waar topspanne van regoor die land mekaar die stryd aansê. Suné se span het algeheel derde in die reeks geëindig.
Verskeie Volkskool o17- en o18-spelers het ook in hul onderskeie provinsiale spanne aan die nasionale kampioenskappe deelgeneem en besonder goed gevaar:

• Leila de Beer het vir die Gauteng Gamma o17-span gespeel, wat sesde uit 24 spanne geëindig het.
• Arné van Tonder, kaptein van die Gauteng Lambda o17-span, het vierde geëindig en is gekies as een van die top 35 spelers in die land.
• Karin Venter, onder-kaptein van die Gauteng Delta o18-span, het ’n silwermedalje gewen. Haar span is as die tweede beste in die land aangewys.
• Suné Barnard het ook in die Gauteng Gamma o18-span gespeel wat vyfde geëindig het. Sy is ingesluit in die top 35 spelers en is verder opgeneem in die SA o19-span.
Hierdie uitslae getuig van die harde werk en talent van die Volkskool-netbalspelers, en die ervaring wat hulle opgedoen het, sal van groot waarde wees vir hul sportloopbane.



