NDBV stop kameelresies, maar KameelFees gaan volstoom voort
Die Laerskool AG Visser KameelFees sal hierdie naweek volstoom voortgaan soos beplan, maar sonder die tradisionele kameelresies.
Dit volg nadat die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) ‘n stokkie daarvoor gesteek het.
Die woordvoerder van die NDBV, Jacques Peacock, het gesê dat die NDBV die skool se aandag daarop gevestig het dat ‘n riglyn van die Departement van Landbou die kameelresies verbied.
Volgens die Departement van Landbou voldoen die lisensie wat die skool aangebied het, nie aan die wetlike vereistes vir wedrenne nie en dek dit slegs ry, vertoning en opleiding.
Die departement het die eienaar en operateur van die kamele ingelig dat die wedrenne nie mag voortgaan nie.
Streng voorwaardes geld voortaan vir enige kameelverwante aktiwiteite, insluitend slegs opgeleide hanteerders, veeartsenykundige toesig en ’n verbod op skadelike praktyke.
Die NDBV beklemtoon dat diere lewende wesens is, nie handelsware nie, en dat skole eerder deernis en respek vir die lewe moet uitbeeld as om ‘n skouspel daarvan te maak.
Die skool het op hul Facebook-blad aangedui dat die fees voortgaan.
Daar sal wel kameelritte wees, vermaak deur bekende kunstenaars, ’n groot verskeidenheid stalletjies, asook ’n pretpark vir die kinders.
LEES OOK: Feespret wag by Heidelberg se gewilde KameelFees



