’n Soet tema by Rensburg VLU se 535ste vergadering
’n Soet tema en wyse woorde het die toon aangegee by die Rensburg VLU se nuutste vergadering.
Lede van die VLU Rensburg-tak het op 14 Oktober ’n gesellige maandvergadering geniet.
Die voorsitter van die tak, Susan Smit, het die verrigtinge geopen en lede en gaste verwelkom.

Hierdie byeenkoms was die 535ste vergadering van die Rensburg-tak.
Ná die opening het Joan Geldenhuys die lede toegespreek.
“Ons is meer kosbaar as korale. Elkeen van ons kan iets skep. Moenie dat jou talente onder die mat ingevee word nie.
“Daar is soveel wat ’n persoon kan doen en iets nuuts kan skep. Laat jou verbeelding vrye teuels kry en jy sal verbaas wees oor wat gemaak kan word,” het Joan gesê.
Die praktiese gedeelte van die dag het gehandel oor heuning, die produk van die jaar.
Elmarie Eygelaar het meer vertel oor die voordele van heuning en die verskillende maniere waarop dit gebruik kan word.

Van heuning afkomstig van bloekombome tot Macadamia-heuning was alles op die spyskaart.
Elke lid het die geleentheid gekry om die verskillende soorte heuning te proe en die unieke smake te vergelyk.
Daar is ook gepraat oor nagemaakte heuning en heuningprodukte wat op die mark beskikbaar is, en dat elke soort sy eie doel in die samelewing het.
Verskeie lede het ook hul wenke en raad oor blomme en blomrangskikkings gedeel.
Die Rensburg VLU beplan om binnekort ’n boom te plant ter viering van Boomplantdag, wat in September plaasgevind het.

Ter afsuiting het Susan Smit gesê: “Elkeen se woorde het ’n impak op ander. Dink en wees bedagsaam voordat jy praat.
“Jou woorde het twee doeleindes: om af te breek of om op te bou. Dit hang van jóú af watter een jy kies.”
Persone wat belangstel om by die tak aan te sluit of meer inligting wil bekom kan Susan Smit by 084 568 2837 skakel.



