Gewapende plaasaanval naby Heidelberg laat bekende bejaarde egpaar ernstig beseer
Die gesteelde voertuig is later op die R23 gevind, maar van die verdagtes is daar nog geen spoor nie.
’n Welbekende egpaar, Jan (75) en Elna (72) Dhooge, is Dinsdagaand (28 Oktober) ernstig beseer toe vyf gewapende rowers hul plaashuis in Schikfontein geteiken het.
Die nag van terreur het omstreeks 23:00 afgespeel toe die aanvallers toegeslaan en die egpaar wreed aangeval het.
Volgens inligting het Elna omstreeks 23:00 na buite gegaan, waar sy deur die aanvallers oorweldig is. Elna het glo gegil, wat Jan se aandag getrek het.
Voordat Jan egter kon uitgaan, het die aanvallers die woning betree en op hom geskiet. Hy is in die nek getref.
Elna is erg aangerand en het verskeie kop- en nekbeserings opgedoen.
Die aanvallers het daarna met die egpaar se voertuig, wat vol items gelaai was, op die vlug geslaan.
Na bewering is daar ook vuurwapens en selfone gebuit.
Die gesteelde voertuig is later op die R23 naby Hoërskool JW Luckhoff gevind, maar daar was geen teken van die gesteelde items of die verdagtes nie.
Sekuriteitspersoneel was gou op die toneel, saam met verskeie ander rolspelers, waaronder die Heidelberg SAPD en AfriForum.
Die egpaar is deur Heidelberg Volunteer Medics and First Responders gestabiliseer voordat hulle na ’n hospitaal vervoer is.
Die SAPD se ondersoek na die voorval duur voort.
Die VF Plus het in ’n verklaring die wrede plaasaanval op die Dhooge-egpaar in die sterkste terme veroordeel.
“Hierdie aanval is nie net ’n misdaad teen twee geliefde gemeenskapslede nie, maar ook ’n skokkende herinnering aan die onaanvaarbare vlakke van geweld waarmee plaasaanvalle en -moorde gepaard gaan. Die feit dat hulle die aanval oorleef het, is niks minder as ’n wonderwerk nie.
“Hierdie voorval bevestig weer die VF Plus se standpunt dat plaasaanvalle en -moorde nie gewone misdaad is nie,” lui die verklaring.



