Local news

NG Kerk Suikerbosrand se klok lui weer ná 20 jaar stilte

Die brons klok van NG Kerk Suikerbosrand, oorspronklik ingewy in 1967, lui weer na 20 jaar stilte

Die NG Kerk Suikerbosrand se klok was vir jare stil, maar nou kan Heidelberg weer die klok se gelui hoor.

Die groot dag toe die klok om 09:00 vir die eerste keer in meer as 20 jaar weer gelui het, het op 19 Oktober plaasgevind en sal in die geskiedenisboeke aangeteken word.

Nadat die klok jare lank buite werking was, het die gemeentelede in 2023 ’n fondsinsamelingsprojek van stapel gestuur om die klok te herstel.

Egbert Kotzee (6) het die eer gehad om die skakelaar te druk sodat die kerkklok weer vir die eerste keer in 20 jaar gehoor kon word.

Gemeentelede kon ’n plastiekbotteltjie met R1-muntstukke vul tot ’n totaal van R300 per botteltjie bereik is.

Gemeentelede het fluks geld bymekaar gemaak, maar veral een seun se bydrae was besonders. Egbert Kotzee (6) het sy eie spaargeld gegee sodat die klok sy regmatige plek weer kon inneem. Egbert se familie het ook aan die projek deelgeneem, en toe hy opmerk dat geld vir ’n goeie doel ingesamel word, het hy besluit om sy sakgeld in te span.

Die kerkklok van die NH Kerk Suikerbosrand wat nou weer werk.

“In plaas daarvan om speelgoed te koop, het hy fluks bygedra en die herstel van die klok eerste gestel,” het Derick Erickson, Egbert se oupa, vertel.

As teken van waardering vir die jong seun se goeie daad het die kerkraad ingestem dat Egbert die klok op 19 Oktober kon inwy.

Die nuwe klokmotor werk elektromagneties en is aangekoop by Belltron in Italië. Die oorspronklike bronsklok is in 1967 saam met die kerk ingehuldig en weeg ongeveer 250 kg.

Die NG Kerk Suikerbosrand se nuwe naambord.

Met die nuwe meganisme kan die Suikerbosrand-kerk se klok weer elke Sondag hard en duidelik gehoor word.

Behalwe die klok wat nou weer gehoor kan word, spog die kerk ook met ’n nuwe naambord buite die gebou.

Gemeentelede het plastiek botteltjies met geld gevul om fondse in te samel vir die kerkklok-projek

“Dit was alles te danke aan skenkings en gemeentelede wat onbaatsugtig fondse geskenk het vir die kerk se belange,” sê ds Danie Fourie, leraar van die kerk. Daar is tans ongeveer 700 lidmate op die kerk se boeke.

“Wanneer ons nuwe projekte aanpak, spring die lidmate self in om fondse bymekaar te maak. Ongelukkig kry kerke nie meer die finansiële hulp soos in die vroeër dae nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Eugene Viljoen

I am a person who likes to learn everyday and the more you live the more you learn, I love photography as it tells a story that words can not express. I love sports journalism.

Related Articles

Back to top button