Gemeenskap word genooi om Nigel Tennisklub se ontwikkeling te ondersteun
Finansiële hulp sal welkom wees om te verseker dat die droom ten volle gerealiseer word.
Die Nigel Tennisklub streef na beduidende ontwikkeling en verander tans ’n terrein wat voorheen oorgroei en verwaarloos was in ’n fasiliteit waaroor die gemeenskap trots kan wees.
Vir jare was die klub en sy bane soos ’n “wit olifant”, totdat Joe Lodder die bul by die horings gegryp het.
Die klub het vir ’n geruime tyd sonder elektrisiteit gebly weens agterstallige betalings uit die verlede.

In 2025 het Lodder en sy bestuur egter die bal weer op die baan gesit en begin om tennisaktiwiteite aan te bied.
Hulle het ’n opedag gereël om die gemeenskap uit te nooi en te wys dat nuwe dinge gebeur.
Sedertdien word daar gereeld sosiale dae aangebied waar spelers kan saamkom en ’n paar balle slaan.
“Ons wil beter fasiliteite by die klub aanbied waar nie net tennis nie, maar ook pickleball en moontlik skyball deel van die beplanning is. Ons wil ook die bane hernu en op die ontwikkeling van die jeug fokus,” sê Lodder.
Om hierdie visie te verwesenlik, is plaaslike besighede en die gemeenskap genooi om betrokke te raak.
Verskeie individue het reeds spontaan ingespring om te help waar hulle kan.

“Finansiële hulp sal welkom wees om te verseker dat die droom ten volle gerealiseer word,” voeg Lodder by.
Die bestuur bestaan tans uit sewe lede wat almal hard werk om die klub vooruit te neem.
Daar word ook gemik op moontlike toernooie met die ondersteuning van die Nasionale Tennisbeheerliggaam.
Verskeie skole in die area gebruik reeds die klub se fasiliteite, en Lodder self lei hulle afrigting.
Om die droom ten volle te verwesenlik, is verdere hulp egter steeds nodig.
Vir meer inligting kan Joe Lodder by 072 53 5575 gekontak word.



