Heidelberg-vrou het dringend gemeenskap se hulp nodig ná dubbele amputasie
’n Inwoner van Heidelberg staar groot uitdagings in die gesig ná die amputasie van albei haar bene. Haar familie doen ’n dringende beroep op die gemeenskap om met noodsaaklike hulpmiddels en aanpassings te help.
In tye waar hoop soms skraal voel, is dit die krag van ’n gemeenskap wat die verskil kan maak.
’n Bekende en geliefde inwoner van Heidelberg, Monica Pieterse (56), bevind haar tans in ’n uiters moeilike lewensfase en het dringend die hulp en omgee van goeie samaritane nodig om weer met waardigheid en veiligheid te kan leef.
Monica se lewe het die afgelope paar jaar drasties verander, met verrykende gevolge.
Ses jaar gelede is een van haar bene weens ’n mediese toestand geamputeer.
As diabeet het sy, ná ’n skietvoorval, gangreen opgedoen wat tot die amputasie gelei het.
Op 16 Februarie is haar ander been ook by ‘n staatshospitaal geamputeer.
Sedertdien is Monica ontslaan en na haar huis teruggestuur, waar sy nou met groot uitdagings gekonfronteer word.
Volgens ’n familielid, Maritta Gouws, is een van die dringendste behoeftes ’n oorplaasbord wat Monica sal help om veilig van haar rolstoel na ’n voertuig oor te beweeg.
“Indien daar enigiemand is wat hiermee kan help, sal dit opreg waardeer word,” sê Gouws.
Verder hoop die familie dat daar goeie samaritane in die gemeenskap is wat kan help met noodsaaklike items om Monica se daaglikse lewe ietwat makliker te maak.
’n Verdere struikelblok is dat haar badkamer tans nie toegerus is om haar behoeftes te akkommodeer nie.
Gouws hoop dat iemand in die gemeenskap dit oor hul hart sal kry om te help om die badkamer meer toeganglik te maak.
Monica ontvang tans slegs ’n ongeskiktheidspensioen en kan nie bekostig om die nodige aanpassings self te doen nie.
“Ons is raadop, want ons weet daar lê ’n lang en moeilike pad voor. Ons doel is nie om kontant in te samel nie, maar om te kyk of ons iemand kan kry wat bereid is om die nodige items te borg,” sluit Gouws af.
Enigiemand wat kan help, kan Corlene Cilliers (versorger) by 069 799 8528 of Maritta Gouws by 070 344-0576 kontak.



