Projek Dwergvalk leer jongmense veldvaardighede en oorlewingstegnieke
SAWV Suikerbos fokus op die ontwikkeling van jongmense deur praktiese veldvaardighede en waardes.
Die Suid-Afrikaanse Weermagtevereniging, Eenheid Suikerbos is daartoe verbind om ’n positiewe rol in die ontwikkeling van jongmense te speel.
Deur verskeie praktiese projekte word die jeug nie net nuwe vaardighede geleer nie, maar ook blootgestel aan waardes, dissipline en probleemoplossing wat uit militêre ervaring spruit.
Een van hierdie inisiatiewe is Projek Dwergvalk, onder leiding van Willem J Pretorius en Hannes Louw. Die projek fokus daarop om jongmense praktiese tegnieke en nuwe denkwyses aan te leer wat hulle in alledaagse situasies kan gebruik.
“Die jeug word betrek by ons projekte sodat ons die stokkie kan aangee en hulle die waardes, kultuur en vaardighede kan leer waarmee ons in die Weermag grootgeword het,” het Pretorius gesê.
Op 9 Maart het SAWV Suikerbos se Projek Dwergvalk ’n groep jongmense gewys hoe om in die veld ’n grastou te maak deur middel van ’n spesiale vleg-tegniek. Hierdie metode verskil van die gewone hare-vlegtegniek waarmee baie van die meisies reeds vertroud is.
Die grastou het verskeie praktiese gebruike, onder meer vir die bou van skuilings, die maak van wippe en strikke, visvang, vasmaak van toerusting en nog baie meer.
Die leiers van Projek Dwergvalk beplan om deur die loop van die jaar verskeie instansies te besoek om nóg jongmense te bereik en hulle met waardevolle kennis en praktiese vaardighede toe te rus wat in alledaagse omstandighede van nut kan wees.
Persone wat meer te wete wil kom kan vir Wilem J Pretorius by 066 442 5231 kontak.



