Local news

Feesvieringe vir NG Moedergemeente Nigel se 90ste bestaansjaar

Die feesvieringe begin met 'n spesiale erediens Sondag en verversings na die tyd in die saal.

Op die kerkperseel van Nigel Moedergemeente lyk alles splinternuut en gereed vir die kerk se 90-jaar feesvieringe, wat op Sondag 22 Maart met ‘n spesiale fees-erediens begin.

Die kerksaal is herstel en geverf, die oorspronklike houtvloere het aandag geniet en lyk bykans soos 90 jaar gelede.

‘n Gedeelte van die dak is onlangs vervang, en nuwe gordyne in die saal se kombuis bring ‘n verjongende gevoel vir ‘n saal wat reeds 90 jaar oud is.

Die kerkraad is baie dankbaar vir die omvangryke borgskappe wat dit moontlik gemaak het.

“Sonder die steun en hulp van hierdie borge sou die opknapping van die geboue nie moontlik gewees het nie,” sê Hannes Nieuwoudt, hoofouderling.

Die kerkgebou en kantoorblok is ook geverf, en die gemeente sien uit na die jaar se feesgeleenthede.

Die fees-erediens begin om 10:00, gevolg deur heerlike versnaperinge in die saal.

Op 9 Mei word die viering voortgesit met die kerk se veiling en kermis. Die kerkraad beoog ’n gholfdag op die plaaslike gholfbaan op 19 Junie, en op 20 November vind die gewilde Kers-, Vers- en Melodie-aand plaas.

Ander projekte wat gedurende die jaar aangepak word, sluit in voedingskemas by skole en vir behoeftige gesinne, ‘n tweedehandse klerewinkel, die bou van ’n gedenkmuur, benutting van die saal vir funksies, en die oprig van advertensieborde en toename in borgskappe.

“Ons nooi ons gemeenskap uit om ons te ondersteun en saam met ons die 90-jarige vieringe te kom geniet,” sê Ansa Kuter, saakgelastigde van die gemeente.

Die leraarspaar van die gemeente, ds Ernst en Joline Zeelie, is ook betrek vir hul insette oor die gemeente se lang bestaan.

Ds Ernst Zeelie en Joline is die leraarspaar.
FOTO: Ansa Kuter.

“Uit ’n gemeenteverslag blyk dit dat persoonlike groei, nuwe toewyding, entoesiasme en verdieping in gehoorsaamheid deur die leraarspaar groot bydra tot die voortbestaan van die gemeente,” sê die verslag van ’n kerkvisitasie in 1996 en 1997.

“Wanneer vroue van die Vrouediens saamstaan, saamwerk, saam bid en Bybelstudie doen; en wanneer die kerkraad en ander aksies in die gemeente werk met ’n koninkryksvisie en nie net oorleef as ’n kleinerwordende gemeente nie, verseker dit die voortbestaan van die gemeente,” word verder genoem.

Een van die kerk se tradisies is die handhawing van die kerkjaar, met onder meer Kerstydperk, Lydenstyd en Paasnaweek, die Pinkstertyd en die Koninkrykstyd. Die ontwikkeling van bejaarde behuising met die naam Silwerjare, in samewerking met Nigel Tuiste vir Bejaardes, was ’n groot mylpaal. Aanvanklik het die gemeente uit haar nate gebars en twee dogtergemeentes het afgestig.

“In die SA-konteks na 1994 het die demografie van plekke verander, en veral middedorpgemeentes soos Moedergemeente het groot veranderinge ervaar. Lidmate het na ander ontwikkelings in die dorp uitgewyk, het verouder, en kinders het elders gaan studeer en woon,” sê ds Ernst Zeelie.

“Tradisies wat voortleef, sluit die sentrale plek van die Bybel in die kerk in.

Daarom word spesiale aandag aan die Woordverkondiging en Bybelstudies gegee,” het hy gesê.

“Dit sluit aan by gebedstye aan die begin van die jaar, eredienste, die handhawing van kerklike feesdae, selfs dié wat nie meer publieke vakansiedae is nie, en die belangrike tradisie van die Pinksterweek. Moedergemeente neem ook steeds deel aan die Geloftedagvieringe.”

 Die kerksaal is onlangs opgeknap. FOTO: Ansa Kuter.

Behoeftige gesinne word ondersteun met kospakkies en klere via die tweedehandse klerebank. Die voedingsprojek bly van kardinale belang, en tans word 155 kinders by plaaslike laerskole ondersteun in samewerking met ander instansies.

“In die beginjare was die kerk en die gemeenskap baie nou verweef. Die gemeente het ’n groot rol gespeel in Voortrekkertradisie-vieringe, insluitend die oprigting van ’n monument op die kerkterrein. Daar was ook ’n kakebeenwa in die kerksaal vir verbanduitdrukking. Moedergemeente het oor die jare verskeie sendinguitreike gehad, en die betrokkenheid by die bediening in die Nigelgevangenis het wonderlike vrugte afgewerp, alhoewel dit met die pandemie beëindig is,” het ds Zeelie vertel.

“Nigel Moedergemeente wil op die gemeenskap gerig bly, daarom neem hulle deel aan projekte saam met SAVF, SAWV en die Afrikaanse laerskole en hoërskool.”

Die kerkraad streef na goeie verhoudings met ander geloofsgemeenskappe, skole, kultuurgroepe en besighede in die dorp, en die saal kan deur gemeenskapsgroepe vir funksies gehuur word.

“Waar tradisie en moderne samelewing nie die beginsels van die Woord skeeftrek nie, vind ons ’n terrein om saam te werk. Ons bou saam in opdrag van Christus in ons gemeente en gemeenskap,” het hy gesê.

“In die kategeseklasse maak die kerk voorsiening vir die jonger generasie en moedig hulle aan om deel van die kerk te wees. Kom deel saam met ons in die genade van die Here, sodat ons die gemeenskap nog beter kan dien,” het hoofouderling Hannes Nieuwoudt opgemerk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Charma Du Plessis

As a journalist, my goal is to present the public with all the information so they can make informed decisions, and as far as possible represent their voices in my reportage.

Related Articles

Back to top button