Heigel Fotoklub beplan uitstappies, werkswinkels en gala-geleentheid
Lede van die Heigel Fotoklub het tydens hul Maart-vergadering in Nigel hul nuutste foto’s vertoon en wenners aangewys, terwyl opwindende planne vir uitstappies, werkswinkels en die jaarlikse gala-geleentheid ook bespreek is.
Die Heigel Fotoklub het op 11 Maart hul gebruiklike maandelikse vergadering in Nigel gehou, waar lede weer saamgekom het om hul passie vir fotografie te deel en na die jaar se aktiwiteite uit te sien.
Die voorsitter, Dawie de Villiers, het die lede verwelkom en meer besonderhede oor die klub se planne vir die jaar gedeel, wat onder meer ’n uitstappie en ’n paar werkswinkels insluit. Groot planne word vir vanjaar beraam.
Die Heigel Fotoklub is gestig vir fotograwe in die area wat Nigel sowel as Heidelberg insluit.

Beskrywing: ‘n Foto van ‘n Katlater op ‘n bruin takkie.
Ongeveer 55 foto’s is vir die kompetisie ingeskryf onder die voorgeskrewe tema, Simplicity. Daar is ook verskeie ander kategorieë waarin fotograwe foto’s kan inskryf, waaronder natuur, voëls, mense, portrette, swart en wit, sport en joernalistiek, asook geboue.
Die wenners is soos volg:
Voorgeskrewe tema: Lüderitz deur fotograaf Nicolaas Smith.
Beste algemene wenfoto: Seychelles Mini Mahé Vissersbootjie deur fotograaf Francois van Jaarsveld.
Beste junior wenfoto: Katlagter deur fotograaf René van der Westhuizen.
Die voorgeskrewe tema vir April is sportfotografie.

Beskrywing: ‘n Seilbootjie op ‘n baie kalm see of dam. Die foto is wasig.
Daar word ook beplan om die klub se gala-funksie op 30 Mei aan te bied. Tydens dié geleentheid sal die nuwe bestuur vir die jaar aangewys word en merietesertifikate uitgedeel word. Die beste fotograaf, meeste vordering en fotograaf van die jaar sal ook aangekondig word.
Die finale datum sal binnekort bevestig word.
Persone wat meer te wete wil kom oor die klub of belangstel om aan te sluit, kan Dawie de Villiers by 084 600 5765 kontak. Die volgende vergadering vind op 8 April plaas.



