Local news

Heidelbergegpaar se pampoene, Thelma en Louise maak indruk by Goliat van Gat Pampoenfees

Die Heidelbergers se euspampoene het die skale laat kreun by die Goliat van Gat Pampoenfees.

Die Heidelberg-egpaar, Cornelis (48) en Alida (46) Bester, het die afgelope naweek goed gevaar by die 22ste Goliat van Gat Pampoenfees, wat in Pretoria plaasgevind het.

Die pampoenkweekkompetisie was vanjaar ’n groot sukses, met nuwe rekords wat opgestel is en wat weereens die sterk gemeenskapsgees en landbou-entoesiasme rondom die geleentheid beklemtoon het.

Cornelis en Alida het met hul pampoene, wat Thelma en Louise gedoop is, onderskeidelik ’n vierde en sesde plek behaal.

Alida Bester en haar ma, Annetjie Booyens by die pampoen, wat Louise gedoop is, wat Alida versorg en ingeskryf het.

Cornelis se pampoen, Thelma, het die skaal op ’n baie indrukwekkende 452.8 kg getrek, terwyl Alida se pampoen, Louise, ’n allemintige 336.8 kg geweeg het.

Die wenner van die 2026 Goliat van Gat-kompetisie was Wykus Lamprecht van Meyerton, met ’n indrukwekkende pampoen van 653 kg, asook ’n skorsie van 492.3 kg. Lamprecht het ook verskeie ander merkwaardige produkte ingeskryf, onder meer ’n 1 kg-tamatie, ’n 16.2 kg-waatlemoen en ’n 23.8 kg-murgpampoen.

Cornelis, wat al vir die afgelope vyf jaar aan die kompetisie deelneem, het verlede jaar en in 2024 pampoenkoning gekraai met pampoene wat 445 kg (verlede jaar) en 730 kg (in 2024) geweeg het. Dié twee masiewe pampoene het Grietjie en Goliat geheet.

Reuse pampoene word jaarliks by die fees ingeskryf.
Foto: Verskaf

Cornelis het aan die Heraut verduidelik dat dit nie kinderspeletjies is om die pampoene te kweek nie en dat ’n mens eintlik hare op jou tande moet hê.

“Die pampoensade moet op ’n baie spesifieke tyd ontkiem word, waarna die bestes uitgesoek word om te plant,” het Cornelis vertel.

“Vanjaar was dit die eerste keer dat my vrou haar eie pampoen laat groei het en dit opgepas het vir die kompetisie. Tog, as ek nou baie eerlik moet wees, het ek maar tegnies gesproke na Thelma én Louise omgesien, terwyl Alida die ligter takies, soos onkruid uittrek, verrig het,” het Cornelis tong-in-die-kies vertel.

Cornelis Bester by sy pampoen (Thelma) met ‘n gewig van 452.8kg wat vanjaar aan hom die vierde plek besorg het. Foto: Verskaf

Volgens hom is dit baie senutergend om die pampoene gelaai te kry vir die kompetisiedag. Vir Saterdag se kompetisie is Thelma op sy bakkie gelaai, terwyl Louise op ’n sleepwa gelaai is.

“Dit verg deeglike beplanning om die pampoene met behulp van hysbande van die grond af te lig tot op die voertuig,” vertel Cornelis.

Hy gaan beslis weer inskryf vir volgende jaar se kompetisie, en alhoewel hy vir eers ’n blaaskansie gaan neem, sal die beplanning weldra begin.

 Dit verg deeglike beplanning om die pamoene met behulp van hysbande van die grond af te lig tot op die voertuig waarmee dit na die fees vervoer word. Foto: Verskaf

Hoewel die gesogte een-ton pampoen nie vanjaar bereik is nie, is ’n rekordtotaal van 4 342 kg pampoene tydens die kompetisie geweeg, die grootste totale gewig nóg by die geleentheid aangeteken.

In die gees van die fees se tradisie van omgee, word al die pampoene aan welsynsorganisasies in en rondom Pretoria geskenk, waar daar ’n groot behoefte bestaan om minderbevoorregte gemeenskappe te ondersteun.

Die Goliat van Gat-kompetisie is amptelik by die Great Pumpkin Commonwealth geregistreer, wat dit ’n amptelike weegpunt in Suid-Afrika maak. Die wenners en hul pampoengewigte word saam met uitslae van pampoenkweekkompetisies regoor die wêreld aangeteken.

Die twee pampoene, Thelma en Louise is op ‘n bakkie en sleepwa gereed om na die Pampoenfees vervoer te word.

Ongeveer 2 500 besoekers het die fees bygewoon, wat vanjaar vir die eerste keer by die Lavender Kontrei Mark aangebied is.

Die finale uitslae van die Goliat van Gat 2026-kompetisie is soos volg:

Wykus Lamprecht (Meyerton) 653 kg

Pieter Botha (Pretoria) 562 kg

Jacky Smal (Sundra) 549.4 kg

Cornelis Bester (Heidelberg) 452.8 kg

Dirk Smal (Sundra) 434.8 kg

Alida Bester (Heidelberg) 336.8 kg

Bester Hattingh (Fochville) 237.4 kg

Petrus Mare (Fochville) 131.4 kg

“Die volgehoue groei van die Goliat van Gat Pampoenfees beklemtoon nie net die entoesiasme van Suid-Afrikaanse pampoenkwekers nie, maar ook die positiewe impak wat landbou-gemeenskapsgeleenthede kan hê deur mense bymekaar te bring, terwyl dit ook diegene in nood ondersteun,” het die organiseerder gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button