Local news

Heidelberg organiseer Klop-op-die-skouer-aand om gemeenskapshelde te eer

Die gemeenskap van Heidelberg kry ’n kans om stil werkers, helpers en rolmodelle te vereer tydens die spesiale Klop-op-die-skouer-aand.

Die gemeenskap van Heidelberg kry nou die geleentheid om erkenning te gee aan mense wat ’n besondere verskil in die dorp maak wanneer ’n spesiale “Klop-op-die-skouer-aand” later vanjaar aangebied word.

Die geleentheid word deur die Heidelberg-takke van die ATKV en Solidariteit Helpende Hand, asook die VLU-tak Rensburg, gereël en het ten doel om inwoners te vereer wat deur hul toewyding, diens en betrokkenheid ’n positiewe bydrae tot die gemeenskap lewer.

Volgens organiseerder Sandra Taljaard is die aand bedoel om erkenning te gee aan die mense wat dikwels stilweg agter die skerms werk.

“Hierdie aand is ons manier om dankie te sê vir mense wat altyd bereid is om te help en ’n verskil in ander se lewens maak. Ons wil graag hê die gemeenskap moet help om hierdie besondere mense in die kollig te plaas,” het sy gesê.

Lede van die gemeenskap word genooi om nominasies in te stuur van persone wat ’n merkbare en positiewe impak in Heidelberg maak. Dit kan mense wees wat betrokke is by gemeenskapswerk, liefdadigheid, kultuur, sport, onderwys of enige ander veld waar hulle ’n verskil maak.

Slegs 15 genomineerdes sal uiteindelik gekies word om deel te wees van die Klop-op-die-skouer-aand.

Om iemand te nomineer, moet die volgende besonderhede ingedien word:

• Die naam van die genomineerde persoon

• ’n Kort motivering waarom die persoon genomineer word

• ’n Foto van die persoon

• Die telefoonnommer en e-posadres van die persoon wat die nominasie instuur

Nominasies kan aan Sandra Taljaard by 082 888 2731 gestuur word.

Die organiseerders moedig inwoners aan om deel te neem en mense te nomineer wat werklik ’n verskil in die gemeenskap maak.

“Ons glo daar is baie mense in Heidelberg wat daagliks goeie werk doen sonder om erkenning te kry. Hierdie aand is ’n geleentheid vir die gemeenskap om vir hulle ’n welverdiende klop op die skouer te gee,” het Taljaard bygevoeg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Supplied content

This content originated outside of Caxton Local Media, but we thought that you might find it interesting.

Related Articles

Back to top button