Heidelberg Hospies hou familiemark en pretloop vir fondsinsameling
Almal is welkom om deel te wees van die belaaide Heidelberg Hospies familiemark.
Die Heidelberg Hospies het onlangs hul sertifisering van die Association of Palliative Care Centres of South Africa (APCC) ontvang en het reeds begin om verwysings vir pasiënte met terminale toestande te aanvaar.
Palliatiewe sorg is egter duur, en die sentrum beoog om ’n winkel, die Hospies Winkel, te open om volhoubaar fondse in te samel.
Om die opening te vier, bied die hospies ’n familiemark aan wat propvol aktiwiteite en produkte is en beloof om iets vir oud en jonk te bied.

Die marknaweek skop reeds op Vrydagaand, 27 Maart om 18:00, af met ’n “glow-in-the-dark” pretloop op die Silver Oaks Parkrun-roete. Toegang beloop R50 en sluit gratis toegang tot Saterdag se mark in, of R150 wat ook eetgoed insluit.
Saterdag, 28 Maart, is die hoogtepunt van die naweek wanneer die markdag vroegoggend by Suikerbos Aftreeoord, Freemanstraat 2, begin. Hekke open om 08:00 teen R20 per persoon, en registrasie vir die eerste item begin om 08:30.
Die eerste aktiwiteit is ’n 700m-pretloop saam met ouma of oupa, met pryse vir verskeie kategorieë, insluitend die meeste rondtes voltooi en die vinnigste rondte.

Die amptelike opening van die Hospies Winkel vind om 10:00 plaas, waarna daar vanaf 11:00 verskeie vermaaklikhede vir die hele gesin aangebied word.
Met poppekasvertonings, toutrekkompetisies saam met die sterkman Andre Sweeney, en optredes deur die Vatvas Dansorkes, beloof die dag om propvol pret te wees.
Spanne van agt kan teen R400 vir die toutrek inskryf.
Vir besprekings of navrae skakel 016 349 5180.



