Jarelange Nigel-inwoner vier 98ste verjaardag
Op 98 bly Oom Danie Jacobs van Nigel ’n inspirasie vir sy familie en gemeenskap.
’n Jarelange inwoner van Nigel het Donderdag (19 Maart) ‘n merkwaardige mylpaal bereik toe hy sy 98ste verjaardag gevier het.
Oom Danie Jacobs, wat tans by Goue Jare Tehuis vir Bejaardes in Nigel woon, word deur sy familie as ’n ware seën en inspirasie beskryf.
Ten spyte van sy hoë ouderdom is sy geheue nog skerp, en volgens sy familie bly hy baie betrokke by die mense om hom.
Hoewel sy gehoor hom soms in die steek laat, is sy verstand steeds helder.
’n Besonderse gewoonte wat hy steeds volhou, is om familie en vriende op hul verjaarsdae te bel om hulle geluk te wens, iets wat volgens sy geliefdes baie van sy omgee en toewyding wys.
Sy familie beskryf die naderende mylpaal as iets besonders.
“Dit is ’n groot seën vir ons as familie om saam met hom 98 jaar te kan vier,” het ‘n familielid gesê.



