Motorfietsryers beplan Rit vir Geregtigheid vir Heidelberg se Dylan Bothma
Motorfietsryers staan saam vir Dylan Bothma deur ‘n Rit vir Geregtigheid op 25 April om druk te plaas vir vordering in die ondersoek en om ’n petisie aan die polisie te oorhandig.
Motorfietsryers van alle klubs en ander belangstellendes word uitgenooi om deel te neem aan ’n Rit vir Geregtigheid vir Dylan Bothma, wat vir 25 April beplan word.
Die spesifieke roete en beginpunt vir die rit sal nader aan die tyd bekend gemaak word.
Dylan Bothma is op 25 Junie 2023 oorlede nadat ’n 16de verjaarsdagpartytjie wat hy op 24 Junie in Heidelberg bygewoon het, skeefgeloop het.
Die HERAUT het sedert die tragiese voorval, wat Heidelberg se gemeenskap geskok het, verskeie kere daaroor berig. Dylan se storie is ook deur die Carte Blanche-span ondersoek en uitgesaai.
Die klem bly steeds op die feit dat die skuldige persoon of persone nog nie aangekeer is nie, en dit is juis dié wroeging waarmee sy hartgebroke ma elke dag saamleef.
Elsie Bothma voer sedert die tragiese voorval ’n verbete stryd om geregtigheid vir haar seun te laat geskied.
Tot dusver bevind sy haarself telkemale in ’n doodloopstraat, maar sy het al dikwels in die verlede gesê dat sy nie sal rus totdat die skuldiges aan die pen gery is nie.

“Dylan leef nog elke dag in ons harte, en ek sal elke jaar sy verjaarsdag vier totdat ek nie meer op hierdie aarde is nie,” het Elsie verlede jaar aan die HERAUT gesê toe sy haar geliefde seun se 21ste verjaarsdag sonder hom moes vier.
“Ons weet wie die skuldiges is, en ons sal nooit ophou veg totdat daar geregtigheid vir my seun is nie,” het Elsie gesê.
Petisie sal aan die Heidelberg SAPD oorhandig word
Willie van Zyl, ’n motorfietsryer wat die Rit vir Geregtigheid vir Dylan Bothma organiseer, het ’n beroep op alle motorfietsklubs, onafhanklike ryers en die motorfietsgemeenskap regoor Suid-Afrika gedoen om saam te staan vir geregtigheid vir Dylan Bothma.
“Die doel is om vreedsaam saam te ry en ’n openbare petisie aan die SAPD te oorhandig, waarin aanspreeklikheid en vordering in die ondersoek geëis word,” het Willie verduidelik.
Hy het voorts gesê dat die rit nie oor konflik gaan nie.
“Dit gaan oor eenheid, bewusmaking en geregtigheid. Die motorfietsgemeenskap het nog altyd saamgestaan wanneer dit saak maak, en nou vra ons elke ryer om hul stem te laat hoor,” het hy gesê.
Op die dag sal ’n petisie, onderteken deur die publiek, aan Heidelberg SAPD oorhandig word, met die versoek dat daar deursigtigheid en ’n behoorlike ondersoek na die Dylan Bothma-saak moet wees.
Elsie het die rit verwelkom en gesê dat dit van groot belang is, sodat die kollig op die ondersoek bly.
“Niemand mag my kind vergeet totdat die ware feite aan die lig kom en geregtigheid seëvier nie,” het sy gesê.
Persone wat meer inligting wil bekom, kan vir Willie kontak by 079 871 3676.





