Rit vir Heidelberg se Dylan Bothma plaas kollig op sloerende ondersoek
Ondersteuners sal op 25 April saamry om bewusmaking te skep en vordering in die Dylan Bothma ondersoek te eis.
Die roete vir die Rit vir Geregtigheid vir Dylan Bothma, wat op 25 April plaasvind, is nou bekend gemaak.
Motorfietsryers en ander belangstellendes kan om 10:00 by Cappuccinos in Voortrekkersstraat bymekaarkom. Van daar sal die groep ’n roete volg na Rensburgstraat, waar die rit tot ’n einde sal kom.
Die HERAUT het verlede week berig oor die beplande rit (Motorfietsryers byeen vir Dylan).
Dylan Bothma is op 25 Junie 2023 oorlede nadat ’n 16de verjaarsdagpartytjie wat hy op 24 Junie in Heidelberg bygewoon het, skeefgeloop het.
Sy ma, Elsie Bothma, voer sedert die tragiese voorval ’n verbete stryd om geregtigheid vir haar seun te laat geskied en hoop dat die rit weer die kollig op die ondersoek sal plaas, wat volgens haar te lank sloer.
“Ons weet wie die skuldiges is, en ons sal nooit ophou veg totdat daar geregtigheid vir my seun is nie,” het Elsie gesê.
Sy het ook bygevoeg dat die rit nie slegs vir motorfietsryers is nie en dat die publiek en ander belangstellendes baie welkom is om dit te ondersteun.
Willie van Zyl, ’n motorfietsryer en organiseerder van die rit, het ’n beroep op alle motorfietsklubs, onafhanklike ryers en die breër motorfietsgemeenskap regoor Suid-Afrika gedoen om saam te staan vir geregtigheid.
Hy het verduidelik dat die doel van die rit is om vreedsaam saam te ry en ’n openbare petisie aan die SAPD te oorhandig, waarin aanspreeklikheid en vordering in die ondersoek geëis word.
Volgens hom gaan die rit nie oor konflik nie.
“Dit gaan oor eenheid, bewusmaking en geregtigheid. Die motorfietsgemeenskap het nog altyd saamgestaan wanneer dit saak maak, en nou vra ons elke ryer om hul stem te laat hoor,” het hy gesê.
Op die dag sal ’n petisie, onderteken deur die publiek, aan die Heidelberg SAPD oorhandig word, met die versoek dat daar groter deursigtigheid en ’n deeglike ondersoek na die Dylan Bothma-saak moet wees.
Persone wat meer inligting wil bekom, kan Willie by 079 871 3676 kontak.




