Local news

Geliefde oud-onderwyseres van Laerskool Tini Vorster oorlede

Met ’n loopbaan wat oor dekades gestrek het, het Hettie Botha haar merk in die onderwys en gemeenskap gelaat.

Hettie Botha (71), ’n jarelange opvoeder wat haar merk by Laerskool Tini Vorster maar ook in die Nigel-gemeenskap gelaat het, is op 9 April oorlede.

Sy sal veral onthou word vir haar passie vir onderwys en haar opregte betrokkenheid by die mense om haar.

Hettie het op ’n plaas naby Balfour grootgeword en was vir 49 jaar met Rassie Botha (72) getroud.

Sy het in 1976 by Laerskool Tini Vorster begin werk en is in 1980 bevorder tot departementshoof in die junior fase.
Om skool te gee was haar passie, en die honderde leerders wie se lewens sy op een of ander wyse aangeraak het, sal daarvan kan getuig.

Die skool se waarnemende departementshoof, Hetta Fourie, wat vir Hettie goed geken het, het hulde gebring aan haar oud-kollega.

“Skoolhou was haar passie en sy was baie lief vir elke kind vir wie sy skoolgehou het. Leerders en onderwysers het baie respek vir haar gehad.

“Sy is van ’n jong ouderdom af as departementshoof van die grondslagfase aangestel. Sy het baie diep spore hier getrap en daar is baie leerders wat deur haar hande is.

“Leerders was versigtig, maar tog baie lief vir haar, en sy het groot welslae behaal met koorafrigting, slagorkesoptredes en ook kunswedstryde. Sy was baie kunstig en altyd besig om iets te skep.

“Godsdiens was vir haar die belangrikste aspek van haar lewe, en sy het die Here onvoorwaardelik gedien.
“Ons as skool is baie hartseer oor haar heengaan en wens die familie baie sterkte toe,” sê sy.

“Almal wat haar geken het, sal haar mis,” sê Hetta verder.

 Hettie Botha en haar eggenoot Rassie was 49 jaar getroud. Foto: Facebook

Na haar aftrede in 2015 het sy dit rustiger geneem, maar beslis nie hande gevou gesit nie. Volgens Rassie was sy ’n baie kreatiewe mens wat daarvan gehou het om te skilder.

Sy was ook besonder behendig wanneer dit by brei-, borduur- en hekelwerk gekom het.

Haar kreatiwiteit het sy verder uitgeleef as ’n baie aktiewe lid van die Nigel-tak van die Vroue Landbou-unie.
Sy het in 2015 by die tak aangesluit en was baie geliefd in die organisasie.

Die bestuur van die Nigel-tak het gesê dat Hettie se heengaan ’n groot verlies is.

“Sy het haar talente, kennis en warmte met ons gedeel en het vir tien jaar op die bestuur gedien, waarvan twee jaar as ondervoorsitter. Sy het ’n waardevolle bydrae gelewer,” het ’n woordvoerder van die tak gesê.

“Haar werk het ons gemeenskap versterk en haar betrokkenheid het ’n nalatenskap van inspirasie gelaat. Ons sal haar met dankbaarheid en waardering onthou, en haar plek in ons herinneringe sal altyd met respek en warmte gevul bly.”

In die dorp self was sy alom bekend.

Haar tuiste was van 1967 tot 1990 op ’n plaas net buite Nigel, waarna sy en Rassie hulle sedert 1990 in Nigel self gevestig het. Sy was egter op haar gelukkigste wanneer sy in die bosveld of by die see was.

Hettie en Rassie het drie seuns, Frikkie, JanJan en Bertie, asook sewe kleinkinders.

Die begrafnisdiens vind Vrydag (17 April) om 11:00 vanuit die NG-Oos Kerk in David Wolfstraat, Visagiepark, plaas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Supplied content

This content originated outside of Caxton Local Media, but we thought that you might find it interesting.

Related Articles

Back to top button