Kaas- en wynaand versterk Helpende Hand studiefonds
Die aand is aangebied by Die Windpomp Kofi en Restaurant om fondse in te samel.
Solidariteit Helpende Hand se Heidelberg-tak het onlangs ’n gesellige kaas- en wynaand by Die Windpomp Kofi en Restaurant aangebied om fondse vir hul studiefonds in te samel.
“Ons het van die begin af uitgesien na die venue se kaas- en wynaand, wat beloof het om ’n aand vol verrassings te wees. Dit het ons verwagtinge heeltemal oortref. Dit was gesellig en vol warmte van die oomblik dat jy by die deur instap,” sê Rochelle Pretorius, een van die gaste.

“Die kos was uit die boonste rakke en het elke wyn gekomplimenteer. Die personeel van Die Windpomp was vriendelik en behulpsaam, en vinnig op hul voete. Elke gas het welkom gevoel en die aand terdeë geniet. Ons sien uit na nog heerlike byeenkomste,” voeg sy by.
Die studiefonds, ook bekend as ’n studietrust, bied rentevrye lenings aan studente om hul studiegeld gedeeltelik te help dek.



