Heidelberg se Klop-op-skouer-aand se gala funksie is om die draai
Die Klop-op-die-skouer-aand is om die draai, en een van die laaste nominasies voor die funksie is ontvang.
Marie van Niekerk-Benadé, wat ook een van die genomineerdes is vir die komende Klop-op-die-skouer-aand is, woon al sedert 1981 in Heidelberg, waaar sy baie betrokke by die bejaardes van die dorp is.
“Na my ontmoeting met Helene Alberts van die Heidelberg Vereniging vir Bejaardes het ek begin om fondse in te samel, hospitaalbesoeke te doen en hulp te verleen waar dit nodig is,” sê sy.
Sy het ook in 1986 by ‘n begrafnisonderneming begin werk, waar sy geleer het dat begrafnisse ‘n liefdes-taak is wat met simpatie, en mees belangrik, tot eer van God gedoen moet word.
“Sedertdien reël ek begrafnisse, ondersteun families in hul seer en doen hospitaal- en huisbesoeke aan mense in nood. Ek doen dit tot vandag toe,” het sy verduidelik.
“Ek gaan waarheen God my stuur en dien met oorgawe. Vir 35 jaar het ek ook by die Suikerbos Aftreeoord gewerk waar ek fondse ingesamel het, die kombuis bestuur het en die siekeboeg gehelp het.”
Marie is een van die laaste nominasies vir die Heidelberg-takke van die ATKV, Solidariteit Helpende Hand en, Rensburg VLU se Klop-op-die-skouer-aand.
Die geleentheid vind op 5 Junie vanaf 18:00 in die saal van die Suikerbosrand Aftreeoord plaas en kaartjies is beskikbaar.
Om te bespreek, kan Sandra Taljaard van Heidelberg ATKV via WhatsApp gekontak word by 082 888 2731.



