Suikerbos Aftreeoord inwoners bederf met FAK produksie
Die produksie is geskryf en aangebied deur Sandra Taljaard in samewerking met Solidariteit Helpende Hand.
Die Solidariteit Helpende Hand Oos Rand se FAK-projek, “Jonk van Gees Fees: Grys Hare, Groot Pret!”, was onlangs ’n hartroerende en feestelike gebeurtenis wat groot vreugde by die inwoners van Suikerbos Aftreeoord gebring het.
Die produksie, geskryf en aangebied deur Sandra Taljaard, het op ’n besondere manier veroudering en alles wat daarmee gepaard gaan, aangespreek; maar met humor, warmte en hope pret.

Danksy die harde werk en toewyding van Patricia Meyer, voorsitter van die Heidelberg-tak van Helpende Hand, is die reëlings met Suikerbos Aftreeoord getref om die produksie daar aan te bied.
Die gehoor is behoorlik bederf met ’n kleurvolle en lewendige program waar daar gesing, gelag en selfs gedans is. Die produksie het nostalgie laat herleef en heimwee na vervloë dae aangeraak, terwyl dit terselfdertyd lig op die uitdagings én mooi van oudword gewerp het.
Die hele Helpende Hand-span het deel gevorm van die produksie en, met verskeie tonele en komiese uitbeeldings, groot vermaak aan die gehoor verskaf.
Die inwoners van die aftreeoord het die geleentheid terdeë geniet.
Daar is saam gelag, herinneringe gedeel en op die maat van bekende liedjies saamgedans. Die positiewe atmosfeer en gemeenskapsgees was tasbaar, en die dankbaarheid van die bejaardes het diep harte geraak.
Na afloop van die vertoning is almal uitgenooi om ’n heerlike “reënboog” van toebroodjies, koffie en tee te geniet; die perfekte afsluiting van ’n dag vol vreugde en samesyn.
Die grootste kompliment van die dag was die inwoners se opregte versoek: “Kom asseblief weer terug!”
Met projekte soos hierdie bewys Helpende Hand Oos Rand opnuut dat ouderdom nie die einde van pret en betekenisvolle betrokkenheid beteken nie.



