Geskiedenis en kultuur leef voort by Nigel VLU byeenkoms
Die Nigel-VLU het ’n betekenisvolle oggend aangebied waar geskiedenis, kultuur en gemeenskapstrots sentraal gestaan het.
Die Vroue Landbou-unie (VLU) se Nigel-tak het op Donderdag, 14 Mei, ’n betekenisvolle oggend aangebied waar geskiedenis, kultuur en herinnering saamgekom het.
Deur die toewyding van Annatjie van der Merwe en haar span is ’n program aangebied wat die gemeenskap se erfenis en trots onderstreep het.
Die bekende Heidelberger en erfeniskenner, Tony Burisch, het die lede meegevoer met ’n samevatting van die konsentrasiekampgeskiedenis tydens die Anglo-Boereoorlog.
Hy het onder meer vertel van die 1 200 inwoners wat in 1901 in die kamp gewoon het, die skool vir 300 kinders en die tragiese 500 sterftes, meestal jong kinders.
Burisch het ook die dorp se geskiedenis belig en vertel dat dit in 1866 gestig is, bekend geword het vir handel en die Turf Club, asook die rol van kerke soos die Heidelberg Methodist Church, wat vanjaar sy 130ste bestaansjaar vier.
Daarna het Dina Smit die gehoor verras met ’n inspirerende praatjie oor rooibostee, wat onlangs as Produk van die Jaar bekroon is.

Foto: Verskaf
Sy het die gesondheidsvoordele en kulturele waarde van rooibos uitgelig, ’n ware Suid-Afrikaanse trots wat wêreldwyd erkenning geniet.
“Die oggend was ’n ryk en betekenisvolle geleentheid wat die gemeenskap se trots, bewaring en eerbied bevestig het,” het ’n woordvoerder van die Nigel-VLU gesê.
Die tak se volgende byeenkoms vind op 11 Junie plaas.
Persone wat belangstel om by die tak in te skakel, kan die voorsitter, Anna Marie Axer, by 082 886 2002 skakel of haar per e-pos kontak by annamarie.axer@gmail.com



