Local news

Nigel sangeres deur na volgende ronde van FAK-Skryf’it-liedjieskryfkompetisie

Drie van Nigel-sangeres en liedjieskrywer Anuscha se oorspronklike liedjies het deurgedring na die volgende ronde van die 2026 FAK-Skryf’it-liedjieskryfkompetisie, wat vanjaar meer as 1 000 inskrywings ontvang het.

Anuscha, ’n sangeres en liedjieskrywer van Nigel, het besluit om vanjaar aan die 2026 FAK-Skryf’it-liedjieskryfkompetisie deel te neem, en dit blyk dat haar besluit reeds vrugte afwerp.

Elke liedjieskrywer kon ’n maksimum van vyf liedjies inskryf, en Anuscha is onlangs in kennis gestel dat drie van haar vyf oorspronklike liedjies deurgedring het na die volgende ronde van die kompetisie.

Altesaam 1 091 inskrywings is ontvang.

Die drie liedjies wat gekies is, is Jesus Dra My Kruis, Boeredans Tot Die Môre en Wat Nou?

“Daar is nog vier uitdunrondes oor, en teen die einde van Junie sal die Top 20 aan die publiek bekend gemaak word. Daarna sal die publiek vir hul gunsteling liedjieskrywer kan stem,” het Anuscha verduidelik.
Sy beskryf die kompetisie as iets besonders vir Afrikaanse musiek en sê sy is trots om deel daarvan te wees.

“Ek dank die Here elke dag vir die talente wat aan my gegee is. Skryf en sing is my passie,” het sy gesê.

Met die eerste beoordelingsronde wat dié maand plaasvind, word die FAK se kundige musiekpersoneel, saam met ervare medewerkers en eksterne musici, se kennis en deursettingsvermoë behoorlik beproef.

Hierdie paneel het die omvangryke taak om elkeen van die 1 091 liedjies deeglik te evalueer; ’n proses wat nie net tydrowend is nie, maar ook van kardinale belang is om regverdigheid en gehalte te verseker.

Gedurende hierdie fase word streng, maar noodsaaklike keuringskriteria toegepas. Uit die eerste siftingsproses word die sterkste liedjies gekies om na die tweede ronde deur te dring.

Die tweede ronde begin op 1 Julie en bring ’n nuwe vlak van intensiteit en kundigheid na die beoordelingsproses.

’n Paneel van gerespekteerde Afrikaanse kunstenaars en liedjieskrywers is saamgestel om die topinskrywings verder te beoordeel. In hierdie ronde word daar na die fyner besonderhede gekyk.

’n Unieke aspek van die FAK-Skryf’it-kompetisie is dat dit uitsluitlik op lirieke en musikale verwerking fokus, en nie op sangvermoë nie.

Dit plaas die kollig op die skrywer se vermoë om betekenisvolle en treffende woorde te skep en dit oortuigend binne ’n musikale konteks aan te bied.

Dit is nie ’n sangkompetisie nie, maar ’n kompetisie wat fokus op die hart van Afrikaanse musiek.
Die beste liedjies word daarna in ’n gesamentlike poel geplaas. Uit dié poel word vier liedjies vir elke ghoeroe of mentor gekies.

Sodra die ghoeroes se Top 20 aangewys is, begin die stemproses op 13 Julie, waarna die publiek die geleentheid kry om hul gunstelinge te ondersteun.

“Dit is vir my ’n heerlike en opwindende stap in my sangloopbaan, en ek sien daarna uit om hierdie proses te volg,” het Anuscha gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button