Local news

Heidelberg se eerste Klop-op-die-Skouer-Aand vereer 15 gemeenskapshelde

Vyftien inwoners wat deur hul onbaatsugtige diens, leierskap en betrokkenheid ’n verskil in Heidelberg maak, is tydens die eerste Klop-op-die-Skouer-Aand deur die Heidelberg-ATKV vereer.

Gemeenskapsdiens, omgee en onbaatsugtige toewyding is Vrydagaand tydens Heidelberg se eerste Klop-op-die-Skouer-Aand gevier, waar 15 plaaslike inwoners vir hul besondere bydraes tot die gemeenskap vereer is.

Gaste en eregaste is op die geleentheid, aangebied deur die Heidelberg-tak van die ATKV in samewerking met Solidariteit Helpende Hand en die Rensburg VLU, bederf met heerlike kos, elegante tafelversierings en klassieke Afrikaanse musiek.

Die Rensburg VLU het die tafelversierings en die gewilde tien-sent-nagereg verskaf.

Sandra Taljaard, voorsitter van die Heidelberg-ATKV, het as seremoniemeester opgetree, terwyl Giovanni Devito vir die musiek en klankversorging verantwoordelik was.

Marie van Niekerk-Benadé (middel met bruin pels) en haar dogter, kleindogters en agterkleinkind.
FOTO: Charma du Plessis.

Elkeen van die 14 genomineerdes, asook ’n geheime nominasie, is individueel erken deur middel van ’n skyfievertoning wat hul bydraes uitgelig het. Die ontvangers het ook elk ’n sertifikaat en geskenk ontvang as erkenning vir hul diens aan die Heidelberg-gemeenskap.

Die 14 genomineerdes was:

• Christine Kruger, stigterslid en bestuurder van die Masincedane-sentrum, wat ondersteuning en sorg aan gestremde volwassenes bied.

• Marie van Niekerk-Benadé, wat haar passievol beywer vir die welstand van bejaardes in Heidelberg.

• Nardus van der Vyver, departementshoof van handelsvakke by Hoër Volkskool, waar hy besigheidstudies en rekeningkunde aanbied.

• Melinda van der Merwe, eienaar van die Plaashuiswinkel vir die afgelope 35 jaar, wat mense daagliks inspireer om ’n positiewe verskil in die samelewing te maak.

• Susan Basson van Crime Stop, wat haar uitgebreide netwerk gebruik om inwoners en die gemeenskap by te staan.

• Nellie Rossouw, wat deur baie as die “hartklop van Hoër Volkskool” beskryf word.

• Elzona Els, stigtingsbestuurder van Emer-G-Med Heidelberg, wat ’n sleutelrol speel in die versterking van plaaslike noodreaksiedienste.

• Yvonne van Coller, plaaslike joernalis en DA-raadslid, wat sedert 1990 aktief by Heidelberg betrokke is.

• Johan Moolman, opsigter van die Heidelberg Hope-span en verantwoordelik vir die instandhouding en netheid van die dorp.

• Albert Grobler, bekende sakeman, gesinsman en dryfkrag agter Heidelberg Hope.

• Nicoléne Neveling, een van die vier direkteure van Heidelberg Hope.

• Phumzile Sibande, gesinsgeweldkoördineerder by die Heidelberg-polisiestasie.

• Jaco Kritzinger van die Lesedi Community Centre, wat op verskeie maniere diens aan die gemeenskap lewer.

• Dawie de Villiers, kommandoleier van die Suikerbos Voortrekkerkommando.

Die geheime nominasie is aan Walda Calitz toegeken.

Walda Calitz, wat nie self die aand kon bywoon nie, is ook vereer. FOTO: Verskaf

“Vir jou lewenslange bydrae tot die onderhoud en uitbou van die Afrikaanse taal en kultuur by die Heidelberg-ATKV-tak,” het Taljaard gesê tydens die oorhandiging.

Calitz is van kleins af betrokke by kuns, taal en kultuur, met ’n besondere passie vir die bevordering van die Afrikaanse taal en erfenis. Haar ouers was stigterslede van beide die Florida- en Heidelberg-ATKV-takke, en sy het grootgeword in ’n omgewing waar taal en kultuur aktief gekoester is.

Deur die jare het sy haarself toegewy aan die ondersteuning en uitbreiding van Afrikaanse kultuuraktiwiteite binne die Heidelberg-tak.

 Marie van Niekerk-Benadé (middel met bruin pels) en haar dogter, kleindogters en agterkleinkind.
FOTO: Charma du Plessis

Haar volgehoue betrokkenheid getuig van ’n lewenslange verbintenis tot die behoud en bevordering van Afrikaans.

Vir haar uitstaande gemeenskapswerk is sy ook met ’n goue medalje deur die internasionale Rotariërbeweging vereer.

“Sy verdien opreg erkenning vir haar volgehoue bydrae en liefde vir die Afrikaanse taal en kultuur in haar gemeenskap,” het Taljaard afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Charma Du Plessis

As a journalist, my goal is to present the public with all the information so they can make informed decisions, and as far as possible represent their voices in my reportage.

Related Articles

Back to top button