Local news

Museumuitstalling vereer Heidelberg Onderwyskollege se nalatenskap

Die museum uitstalling word by Laer Volkskool in die mediasentrum opgerig.

Alumni van die Heidelberg Onderwys Kollege (HOK), wat van 1909 tot 1967 as ’n instelling vir die opleiding van onderwysers gedien het, het op 5 Junie by die Laer Volkskool gekuier.

In die skool se mediasentrum word ’n museumuitstalling saamgestel met memorabilia van die HOK wat ’n trompoppie-uitrusting, ’n kleurbaadjie, foto-albums, studente-tydskrifte en ander geskrewe media bevat.

Alumni van die HOK, wat volgende jaar op 20 Maart saamtrek vir die 60-jarige herdenking van die kollege se sluiting, het gaan kyk hoe die uitstalling vorder.

Retha Harmse wys die geraamde trompoppie-uitrusting en kleurbaadjie vir Saartjie en Dr Ben van Heerden. FOTO: Charma du Plessis

Retha Harmse, een van die alumni wat besoek afgelê het, vertel hoe die eerste reünie wat gereël is in Pretoria net drie gaste gehad het, maar in 2017 by die Voortrekkermonument het 308 oud-studente van die HOK dit bygewoon.

Sy onthou hoe anders onderwysopleiding gedurende haar studentejare was, en hoe mense hul eie huise oopgemaak het vir studente tydens proeftyd.

n Foto vanuit die album oor “Die Studenteprins” wat deur Neels Hansen geskryf en geredigeer is.

Toe sy haar man, Hennie Harmse, ontmoet het, was dit proeftyd, en het sy saam met vier ander meisies in een huis gebly.

In daardie tyd het studente proefjoernale gehad, en proeftyd was aan die begin van die jaar vir drie weke, en net ná die wintervakansie vir drie weke.

Heidelberg Onderwyskollege se tweede netbalspan in 1965. FOTO: Geskiedkundig

Dr Ben van Heerden, wat saam met sy vrou, Saartjie, vele reünies gereël het, het by die 2017-reünie ’n joernaal van die geskiedenis van die kollege bekendgestel.

Sy herinneringe oor proeftyd is ’n bietjie anders. Hy moes een jaar ’n musiekklas proef, en aan die einde van die tydperk is hy gesê: “Meneer, jy het nie die kinders geleer nie, hulle het jou geleer.”

Die baltoneel van die Studenteprins, ‘n foto vanuit die album. FOTO: Geskiedkundig.

Hy het baie van die memorabilia verbonde aan die HOK oor die jare aan die Erfenisstigting geskenk, en het in sy huis ’n beeldjie van ’n vrou wat in een van die HOK se lokale was.

Hy onthou dat Heidelberg die kleinste van slegs vier onderwyskolleges was, en hoe dit in 1967 gesluit is om die weermag toe te laat om die gronde en geboue vir opleiding te gebruik.

 ‘n Argieffoto vanuit Dr Ben van Heerden se boek van ‘n beeldjie wat uit die HOK kom. FOTO: Geskiedkundig

Retha onthou baie van die kultuuragtergrond van die kollege, en het groot eerbied gehad vir Neels Hansen, wat die opvoering “Die Studenteprins” geskryf en geredigeer het.

In 1967 is Lesley Phillips, ’n professionele sanger, as die prins aangestel, en al die ander rolle is deur HOK-studente vertolk. “Dit wat Neels op die planke gebring het, was ongelooflik,” het sy vertel.

Die troutoneel vanuit die Studenteprins foto-album.
FOTO: Geskiedkundig

Die verlies van die HOK het die studente, maar ook die onderwys, swaar getref. “Onderwys in hierdie land het in Heidelberg begin,” het Retha vertel.

Die reünie vind volgende jaar by die Laer Volkskool plaas, maar die skool hoop dat die museumuitstalling vroeër afgehandel sal word om die leerders die kans te gee om meer oor die geskiedenis van die HOK te leer.

Twee herdenk-medalje sleutelringe van vorige reünies.
FOTO: Charma du Plessis.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Charma Du Plessis

As a journalist, my goal is to present the public with all the information so they can make informed decisions, and as far as possible represent their voices in my reportage.

Related Articles

Back to top button