Bekende Heidelberg-boer Hansie Jordaan ter ruste gelê
Hy was 'n geliefde en gerespekteerde boer wat vir vyf dekades op die plaas Witkleifontein geboer het. Sy familie onthou hom as 'n man van geloof, wysheid en 'n onwrikbare liefde vir die plaaslewe.
Meer as 380 vriende, familie en belangstellendes uit die gemeenskap het Woensdagoggend by Lezar Opstal in Blinkpoort, Heidelberg, byeengekom om afskeid te neem van Hansie (Galoop) Jordaan.
Hansie, ‘n jarelange en bekende boer in die Heidelberg-omgewing, is op 5 Julie in die ouderdom van 67 jaar oorlede.
Hy het die afgelope 50 jaar op die plaas Witkleifontein buite Heidelberg geboer.
Sy nabye gesin beskryf hom as ‘n man wat altyd onthou sal word vir sy liefde vir die plaas, die mielielande en sy beeste.
Vir Hansie was boerdery nie bloot ‘n beroep nie; dit was deel van sy wese.
Hy het die grond geken, die seisoene gerespekteer en verstaan dat niks van waarde oornag groei nie.
Hy het geweet hoe dit voel om op die eerste reëndruppels te wag, om hoop te behou wanneer droogte knyp en steeds met geloof te plant dat God sal voorsien.
Volgens sy gesin was Hansie ‘n man van min woorde, maar sy lewe het boekdele gespreek.
Sy wysheid het nie net uit boeke gekom nie, maar uit jare se ondervinding, harde werk en die lewe self.
Hy was ‘n planmaker en raadgewer, iemand wat oplossings kon vind waar ander slegs probleme gesien het. Sy hande het hard gewerk, sy hart was vol deernis en sy woord het altyd gewig gedra.
“Sy spore lê diep in die stof van die plaaspaaie. Sy stem eggo in die geritsel van die mielieblare. Sy geloof leef voort in die gebede wat hy agterlaat, en sy liefde bly in elke hart wat deur sy lewe geraak is,” het ‘n familielid gesê.
Hansie word oorleef deur sy vier dogters en agt kleinkinders.



