Heidelberg Hospice se mark bied unieke geskiedenistoere
Die Heidelberg Hospice se Kuns- en Kultuurmark bied meer as kuns en kultuur. Besoekers kan ook Heidelberg se fassinerende geskiedenis per bus of te voet saam met plaaslike kenners ontdek.
Die Heidelberg Hospice bied op 28 en 29 Augustus ‘n Kuns- en Kultuurmark by Suikerbos Aftree-oord, Freemanstraat 2, Heidelberg, aan.
Die beplanning daarvoor is reeds volstoom aan die gang.
‘n Groot hoogtepunt van die geleentheid is die geskiedkundige toere wat op die Saterdag aangebied word.
Die bekende Heidelberger en geskiedkundige, Bouwe Wiersma, sal ‘n interessante bustoer aanbied wat deelnemers deur Heidelberg se ryke 160-jarige geskiedenis neem.
“Die bustoer skop by Suikerbos Aftree-oord af met die vraag waar die naam Suikerbosrand vandaan kom,” het Wiersma verduidelik.
“Van daar beweeg ons na Meyerstraat en die verbintenis met Meyerton, voordat ons na Rensburg gaan, wat volgende jaar sy 130ste bestaansjaar vier. Daar leer ons van die spookbrug, wit wolwe en die stigting van die AWB.
“Die toer volg daarna die ou Durbanpad, verby Shalimar en die geskiedenis van straatnaamveranderinge, al langs ou Emmasdal tot deur Ratanda.
“In Vrouemaand leer ons meer oor Anti-pas Mokoena en sien hoe die Withuis ‘n metamorfose ondergaan het.
“Terug in Heidelberg word ons weer met straatname gekonfronteer en leer ons hoe Kerkstraat HF Verwoerdstraat geword het.
“By die Kloof-begraafplaas haal ons die aap uit die spreekwoordelike mou (of eerder uit die graf) en leer ons onderweg van die bakoond, net betyds om terug te wees om die res van die feesvieringe by Suikerbos Aftree-oord te geniet,” het Wiersma gesê.
“Verrykende kennis sal gedeel word en saam sal ons weer leer van Heidelberg wat aan die Suikerbosrand hang.”
Nog ‘n bekende Heidelberger en geskiedeniskenner, Tony Burish, sal die staptoer aanbied.
Die toer sluit besoeke aan die Ou Stadshuis, Klipkerk, Ou Tronk, Old Reiley’s Place, Laer Volkskool, die AG Visser-huis, die Ou Bioskoop en die Metodistekerk in.
Vir meer inligting oor die mark, of om ‘n plek op die bus- of staptoer te bespreek, kan belangstellendes 079 974 7221 skakel of ‘n e-pos stuur na socialw@suikerbosoord.co.za




