Local news

Oud-Heidelberger se nalatenskap leef voort

Familie en vriende bring Saterdag hulde aan 'n man wat sy gemeenskap altyd eerste gestel het.

Vriende, familie en gemeenskapslede sal Saterdag (25 Julie) finaal afskeid neem van Abrie “Robbies” Beetge (61), ‘n bekende Brakpan-inwoner en voormalige voorsitter van die Brakpan Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), wat op 10 Julie oorlede is.

Hy sal onthou word as ‘n man met ‘n diep liefde vir mense en ‘n passie om sy gemeenskap te dien.
Abrie was die afgelope 10 jaar die eienaar van Minatlou Protection Services, ‘n onderneming wat uit sy begeerte ontstaan het om mense te beskerm en ‘n verskil in die gemeenskap te maak.

Sy eggenote, Madelein Beetge (48), onthou haar man as iemand met ‘n hart van goud.

“Hy het ‘n besondere liefde vir mense gehad, veral vir bejaardes en kinders,” vertel sy.
Volgens haar was daar vir hom geen groter vreugde as om ‘n glimlag op iemand se gesig te sien nie.
“Sy goedhartigheid, deernis en bereidwilligheid om ander eerste te stel, het sy lewe gekenmerk,” voeg Madelein by.

“Hy het elke jaar met groot opgewondenheid Kersgeskenke uitgedeel aan die kinders, wat ons baie liefdevol die Sop en Brood-kindertjies van die plaaslike laerskole genoem het.

“Hy het geglo dat elke kind verdien om spesiaal te voel en die vreugde van Kersfees te beleef. Vir hom was dit nie belangrik hoeveel hy gehad het nie, maar hoeveel hy kon gee.”

Madelein sê sy toewyding aan die gemeenskap het verder gegroei gedurende sy twee jaar as voorsitter van die Brakpan GPF.

“Hy het homself toegewy aan die veiligheid van ander en onvermoeid gewerk om misdaad te help bekamp.

“Uit hierdie passie is Minatlou Protection Services gebore; nie net as ‘n besigheid nie, maar as ‘n verlengstuk van sy droom om mense te beskerm en ‘n verskil te maak.

“Sy sterk band met die SAPD en sy onwrikbare toewyding aan die gemeenskap het hom die respek van baie mense besorg.”

Wanneer Abrie nie besig was om ander te help nie, het hy sy vryheid op sy motorfiets geniet, aan sportskiet deelgeneem en gereeld in die gimnasium geoefen.

Hy was die nasionale president en stigter van die Leader Of The Pack Motorfiets Klub wat in 2002 op die been gebring is.

“Sy nalatenskap lê nie net in wat hy bereik het nie, maar in die lewens wat hy aangeraak het, die hoop wat hy gebring het en die liefde wat hy so vrylik uitgedeel het.”

Volgens Madelein was Abrie se onwrikbare geloof in God die anker van sy lewe.

Hy het daagliks tyd gemaak om nader aan die Here te leef en Sy Woord met familie, vriende en lede van sy “Lig in die Donker”-groep te deel. Hy het geglo dat selfs die kleinste boodskap van hoop iemand se hart kon aanraak en nuwe moed kon gee.

“Hy was ‘n lig vir baie mense in donker tye en het met sy sagte geaardheid en opregte geloof talle lewens aangeraak,” sê Madelein.

Abrie het 23 jaar lank in Heidelberg gewoon, waar hy ook diep spore getrap het, voordat hy die afgelope 12 jaar ‘n trotse inwoner van Brakpan was.

Hy word oorleef deur sy vrou, drie kinders, vyf kleinkinders en twee stiefdogters.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button