Helpende Hand daag besighede uit om plaaslike skole te ondersteun
Solidariteit Helpende Hand se Heidelberg-tak nooi besighede om deel te neem aan die Polar Plunge uitdaging, waarvan die winste vir skole aangewend sal word.
Solidariteit Helpende Hand se Heidelberg-tak nooi besighede in die streek uit om deel te neem aan die jaarlikse Polar Plunge-uitdaging op 24 Oktober by die Alberton-rugbystadion, waar deelnemers hul moed sal toets terwyl hulle fondse vir plaaslike skole insamel.
Takvoorsitter Patricia Meyer moedig ondernemings aan om saam met hul spanne deel te neem en te wys watter maatskappy die grootste hart vir liefdadigheid het.
“Die Polar Plunge is ’n unieke, gesinsvriendelike geleentheid waar deelnemers die ysige water trotseer om fondse in te samel en bewustheid vir liefdadigheid te verhoog,” sê Meyer.
Die dag beloof om propvol vermaak te wees, met lewendige musiek, ’n kindervriendelike speelarea, ’n mark, heerlike kos en drinkgoed, asook pret vir die hele gesin.
Besighede word aangemoedig om ’n span of individuele deelnemers in te skryf, ander ondernemings uit te daag en gemeenskapslede aan te spoor om hul gunstelingbesigheid te ondersteun.
Die geleentheid bied ook die geleentheid om op ’n gesonde manier vir ’n goeie doel mee te ding.
“Aan die einde van die dag word die titel ‘Heidelberg Wenner-maatskappy vir Liefdadigheid 2026’ toegeken aan die onderneming wat die meeste gees, betrokkenheid en ondersteuning toon,” verduidelik Meyer.
Kaartjies kos R50 per persoon indien dit voor 15:00 gekoop word, en R100 per persoon daarna. Kinders jonger as 18 jaar kry gratis toegang.
Besighede wat wil deelneem, kan Meyer by 083 305 3577 kontak met hul naam en die aantal deelnemers wat hulle wil inskryf.



