Local news

HOK oud-studente onthou tye vol pret

Die Heidelbergse Onderwyskollege het 'n groot bohaai van jool gemaak voor die sluit van die kollege in 1967.

Oud-studente van die Heidelbergse Onderwyskollege (HOK) het elke jaar tydens die kollege se bestaan groot moeite gedoen om van jool ‘n onvergeetlike gebeurtenis te maak.

Dit het onder meer kleurvolle vlotte, joolblaaie wat verkoop is en selfs die kroning van joolskoonhede ingesluit.

Joolskoonhede het aandagtig geluister na die planne vir die joolprojek.

Die joolblaaie is in omliggende dorpe verkoop om die publiek van die optogte se program in te lig. Studente is in groepe na die dorpe vervoer om hul verkoopsveldtogte aan te pak.

Die studente se kreatiwiteit het geen perke geken nie. Een groep het selfs ‘n voertuig sonder ‘n motor van Heidelberg na Springs gestoot en langs die pad joolblaaie aan barmhartige Samaritane verkoop wat gestop het om hulp aan te bied.

Vroue in sandale reg om joolblaaie te verkoop.

Die joolgees het selfs tot in Nelspruit gestrek, waar joolblaaie verkoop is en ‘n donkiekar gebruik is om vermaak te verskaf en die aandag van toeskouers te trek.

Die optogte is tradisioneel deur trompoppies gelei, wat volgens ‘n uittreksel uit dié tyd as die “tamboernooiens” beskryf is.

In Nelspruit is ‘n donkiekar gebruik om pret te besorg en toeskouers te lok.

Jool was egter veel meer as net ‘n vrolike geleentheid. ‘n Groot deel van die optogte en gepaardgaande fondsinsamelings is aangewend vir liefdadigheid, onderwys en opvoeding.

Die groep mans het ‘n kar sonder ‘n enjin van Heidelberg na Springs gestoot om joolblaaie te verkoop.

“Ons joolpoging het ook ‘n gulle ontvangs geniet in Alberton, Germiston en Nigel. Aan verskeie liefdadigheidsorganisasies van hierdie dorpe sal ‘n gedeelte van die opbrengs geskenk word,” lui die uittreksel verder.

Een van die jooloptogte, begelei deur die plaaslike hoërskool se orkes in Nigel.

Die herinneringe vorm deel van die opbou na die kollege se 60-jaar-reünie in 2027.

 Joolblaaie soos die een van 1964 is verkoop om fondse in te samel vir liefdadigheid. FOTO: Verskaf

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button