Stap en Draf vir Bybels vier 10 jaar in Nigel
AP Kerk Nigel se gewilde Stap en Draf vir Bybels keer op 11 September terug vir sy 10de bestaansjaar.
Die AP Kerk, Nigel bied op 11 September die 10de Stap en Draf vir Bybels by die John Vorster Sportgronde aan en nooi die gemeenskap om deel te wees van die spesiale geleentheid.
Die jaarlikse fondsinsameling word aangebied onder die tema “Neon”, met deelnemers wat aangemoedig word om hul kleurvolste neon uitrustings aan te trek.
Die doel van die geleentheid is om fondse in te samel vir Bybels maar ook om kerke en die gemeenskap bymekaar te bring.
Inskrywings kan vanaf 18:00 gedoen word waarna die stap- en drafgeleentheid om 19:00 afskop.
Die inskrywingsfooi beloop R30 per kind (0 tot 18 jaar) en R50 per volwassene.
Daar is ook pryse op die spel vir die beste spangees en beste neon uitrusting.
Kos en koeldrank sal te koop wees en alle betalings sal streng kontant wees.
Die organiseerders nooi inwoners, gesinne, en plaaslike kerke om saam te stap of te draf en sodoende ‘n verskil te maak.



