Local news

KYK: Suikerboroord in Heidelberg nou ‘n SAVF instansie

Die amptelike oorname en lintknip seremonie het Donderdag plaasgevind.

Die Suikerbosoord is Donderdag, 1 Oktober, amptelik onder die beheer van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) geplaas tydens ’n lintknipseremonie wat deur verskeie belanghebbendes bygewoon is.

Die SAVF as organisasie bestaan al 122 jaar, en in 1910 is hul eerste ouetehuis, Môreglans in Krugersdorp, geopen. Sedertdien het die organisasie beheer geneem van 31 tehuise met 24-uur-sorg, met Suikerbosoord wat nou die 32ste tehuis is.

Die organisasie se fokus is op die finansiële bestuur van die tehuise, wat van skenkings en subsidies afhanklik is weens die verminderde inkomste van bejaardes. Die doel is om volhoubaarheid te verseker.

Die bestuur is aan die werknemers bekendgestel en bestaan tans grootliks uit SAVF-nasionale personeel vir die oorgangsperiode. Daarna sal plaaslike bestuur aangestel word deur middel van ’n verkiesing tydens die volgende algemene jaarvergadering.

In April 2024 is ’n afspraak met die hoof uitvoerende beampte (HUB) gemaak vir raad oor hoe om die oord beter te bestuur. Ná goeie leiding en inligting is daar in November 2025 met die amptelike oordragproses begin.

In die tyd van toe tot nou is verskeie opknappings reeds by die oord gedoen, veral aan die saal en sorgeenheid.

Dit sluit nuwe vloere, verfwerk en meer in, en hierdie verbeterings sal onder die SAVF se bestuur voortduur.

Rentia Kotze, die eerste vise-president van die SAVF, het die oorhandiging gelei, die bestuur bekendgestel en Suikerbosoord by die SAVF-familie verwelkom.

“Suikerbos staan nie meer alleen nie. Die nasionale kantoor verskaf nou dienste, en ons kyk vorentoe na daar waar die son opkom. Soos ons tema sê: Aksie bou die toekoms,” het sy gesê.

Dr Blanché Verster, ’n bestuurder by die SAVF se nasionale kantoor en maatskaplike werker, sê dat die belangrikste ding is dat die SAVF ’n gevestigde nasionale organisasie is met verskeie afdelings wat dienste aan lede verskaf.

“Daar is streekbestuurders, ’n hoof van verplegingsdienste, asook die finansiële afdeling wat reeds volgende week opleiding bied om die oorgang na die SAVF se finansiële sisteem te doen,” het sy verduidelik.

Een van die SAVF se mees getroue lede, Irna Hartzenberg, het meer vertel oor die SAVF as organisasie.

Suikerbosoord se bestuur is Marisa Messenheimer (finansiëel), Marlene Walkden (maatskaplik), Jannie Kotze (voorsitter) en Wilma Wehmeyer (hoofverpleër). FOTO: Charma du Plessis.

“Wanneer ons oor SAVF Gauteng praat, praat ons oor baie meer as net ’n provinsie op die kaart. Ons praat oor ’n struktuur van mense, rade, streeksbestuurders en dienste wat saamwerk met een gemeenskaplike doel: om ’n betekenisvolle verskil in mense se lewens te maak,” vertel sy.

Die SAVF funksioneer in vyf van die nege provinsies, met die Kaapprovinsies en die Vrystaat uitgesluit. Gauteng bestaan uit 22 rade, wat dienste lewer aan organisasies soos ouetehuise, vroeëkinderontwikkelingsentrums en ander familiedienssentrums.

Die rade dien onder vier streeksbestuurders, waarvan Elize McGluwa die streeksbestuurder is vir die streek waarin Suikerbosoord val.

“Iets waarop ons besonder trots is, is dat elke raad in Gauteng aan die wetlike vereistes voldoen. Dit gebeur nie vanself nie. Dit verg toegewyde vrywilligers, goeie bestuur, verantwoordbaarheid en voortdurende samewerking,” sê sy.

SAVF-president Graeme Peplar het die oggend met ’n finale boodskap afgesluit.

SAVF president Graeme Peplar. FOTO: Charma du Plessis

“Oktober is spesiaal, want die SAVF is op 19 Oktober gebore. My geskiedenis by die SAVF het begin toe ek nege jaar terug in ’n setel geplaas is,” sê hy.

Hy het in die jare daarna sy pad opgewerk tot president van die organisasie.

“Ons verskaf omgee. Ons moet sterk na die finansiële onderdeel kyk om seker te maak die instansies onder ons is ’n sukses.

“Ons groei geweldig, en slegs in die laaste twee jaar het ons drie groot organisasies bekom, en dit is net die groot organisasies. Ons hoop om die groei volhoubaar en tot die bate van die kwesbares in ons land te bestuur,” het hy afgesluit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button