BlogsEntertainmentLifestyleOpinionSponsored

Afrikaans Digitaal

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), ‘n maatskappy sonder winsmotief, het op 23 Oktober sy webwerf met nuwe produkte en dienste vir gebruikers van Afrikaans oopgestel.

“Die digitale platform is ‘n nuutjie vir die taal en maak Afrikaans nie net vir sy gebruikers toeganklik nie, maar stel hom ook vir taalnavorsers in elke uithoek van die aarde oop,” het VivA se taaladviseur Sophia Kapp gesê.

Die dryfveer agter die projek is uitvoerende direkteur, professor Gerhard van Huyssteen, dosent in Afrikaans Taalkunde aan die Noordwes Universiteit (NWU) in Potchefstroom. Hy is ook die voorsitter van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en aanbieder van die gewilde televisie vasvraprogram Op die Spel. “Dit is ‘n groot stap vir Afrikaans. Enigeen wat toegang tot die internet of ‘n slimfoon het, het nou toegang tot taalhulpbronne. Veral jonger taalgebruikers, taalaanleerder en gebruikers wat nie ‘n hele versameling boeke kan bekostig nie, kan hierby baat,” het prof Van Huyssteen gesê.

Lidmaatskap is gratis, maar ernstige taalgebruikers en navorsers het die opsie om ‘n VivA+ intekenaar te word vir toegang tot meer produkte. Gebruikers kan ook taalvrae aan Sophia stuur en telefoniese navrae sal vir ‘n beperkte tydperk gratis beantwoord word.
In die Woordeboekportaal kry intekenare toegang tot gratis aanlyn taalhulpbronne soos die Kuberwoordeboek, Entrepreneurskapwoordeboek, Voorsetselwoordeboek, Afrikaanse SkryfGoed 4 se tesourus en vele meer. Die slimfoon-app bied gebruikers boonop toegang tot die woordelys van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls.

VivA se Taalportaal het ten doel om die grammatika van Afrikaans te omskryf, maar dit is ‘n langtermynprojek wat tot 2019 kan neem. Navorsers van verskeie universiteite het hul gewig by dié ambisieuse projek gegooi. Die projek vorm ook deel van die Nederlandse Taalportaalprojek, ‘n inisiatief wat Afrikaans, Fries en Nederlands omvattend en vergelykend beskryf.
Verdermeer is die korpusportaal die eerste in sy soort vir Afrikaans. Hier kry gebruikers gratis toegang tot verskeie versamelings Afrikaanse tekste wat onder lisensie vir navorsingdoeleindes beskikbaar gestel word.

“Ons belangrikste oogmerk is om Afrikaans se hoë funksies uit te brei en versterk. Digitale bronne soos databasisse word makliker en vinniger bygewerk as boeke en ons kan daagliks nuutskeppings of oplossing vir taalkwessies opteken. Dit ondersteun die taal in al sy gebruiksdomeine,” aldus Sophia.
VivA bied ‘n maklike en vinnige naslaankanaal en is deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, ATKV, Dagbreek Trust en NWU gestig. Die projek word finansieel deur die Atterbury Trust, PUK Kanselierstrust, NWU se sentrum vir Tekstegnologie (CTexT), AfriForum, die Afrikaanse Taalraad, Fonds Neerlandistiek Suid-Afrika en die Vriende van Afrikaans ondersteun. RSG en Rapport is VivA se mediavennote.
Besoek die webwerf www.vivaafrikaans.org en ervaar Afrikaans digitaal.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto.

Related Articles

Back to top button