Heidelberg Rugbyklub oorheers Kempton Wolwe met 38–19 sege in Merlin-liga
Die halftydbord het gelees: Heidelberg 14 – Kempton 5.
Heidelberg Rugbyklub het op 7 Junie teen Kempton Wolwe meegeding in die Vake Merlin-liga. Die wedstryde is op Hoër Volkskool se velde gespeel, waar Heidelberg se eerstes met ‘n oortuigende sege van 38–19 weggestap het.
Hoewel hulle gewen het, het Berge verskeie hanteringsfoute begaan, wat Kempton in die eerste helfte in die wedstryd gehou het. Die rustydtelling was 14–5 in Heidelberg se guns.

In die tweede helfte het Heidelberg hul voorsprong uitgebrei met ‘n verdere 24 punte, terwyl Kempton 14 punte bygevoeg het. Albei spanne het by tye konsentrasie verloor, wat hul speltempo beïnvloed het.
Nietemin wys Heidelberg deurentyd dat hulle ‘n krag is om mee rekening te hou in die huidige seisoen van die liga.

Heidelberg se punte is soos volg aangeteken:
Drieë: Morné Viljoen, Henry van Biljon, Jannie Hough, Francois Vorster, Brennan Ryan, Johan Ness
Doelskoppe: Francois Vorster (4)

Heidelberg se tweede span het gesukkel teen Kempton se tweedes, maar het uiteindelik met 15–14 geseëvier deur drie drieë te druk.

Die klub se volgende wedstryd is op 14 Junie teen Oos-Rand United, wat soos Heidelberg nog onoorwonne is in die liga. Die wedstryd sal op Volkskool se veld plaasvind.



