Heidelberg blaas die aftog teen ERU
Hanteerfoute het 'n groot bydrae gehad in Heidelberg se nederlaag.
Heidelberg Rugbyklub het Saterdag in die Valke Rugbyunie se Merlin Liga teen East Rand United (ERU) gespeel.
ERU het die wedstryd 34-29 gewen.

In die eerste 10 minute het die Berge vinnig agt punte aan ERU gegee, wat ’n maklike drie en ’n strafskop ingesluit het. Daarna het Heidelberg twee drieë gedruk, wat albei verdoel is om kortliks voor te loop.
ERU het teruggeantwoord met drie verdere drieë, al drie met suksesvolle doelskoppe. Net voor die einde van die eerste helfte het Heidelberg nog ’n drie gedruk.

Die halftydtelling was 29–19 in ERU se guns.
In die tweede helfte het dinge nie vir beide spanne glad verloop nie, wat ’n paar geelkaarte tot gevolg gehad het.
Heidelberg het ’n verdere 10 punte aangeteken en ERU vyf. Naby die einde moes Heidelberg met 13 man klaar speel weens geelkaarte.

Dissipline, swak besluite en hanteerfoute het Heidelberg die wedstryd gekos – ’n wedstryd wat hulle maklik kon wen. Heidelberg het vier drieë, drie doelskoppe en een strafdoel behaal, terwyl ERU vyf drieë, drie doelskoppe en een strafdoel gescore het.

Heidelberg se punte is behaal deur:
Drieë: JJ Hattingh, Brennan Ryn, Nantus Mouton en Eben Barnard.
Doelskoppe: Francois Vorster (3); strafdoel: Francois Vorster

Heidelberg se tweede span het op hul beurt 29 (5) – 10 (10) teen ERU gewen. Die skrums van Heidelberg se tweedespan was sterk en het ERU herhaaldelik teruggedruk.
Die agtsteman, Izak Tait, het sy 50ste wedstryd vir Heidelberg gespeel. Heidelberg het vier drieë, drie doelskoppe en een strafdoel aangeteken. ERU het een drie, een doelskop en een strafdoel behaal.

Heidelberg se tweede span punte is aangeteken deur: Drieë: Izak Tait (2), Frik de Beer en Leon Luus; doelskoppe: Andy Huysamen (3); strafdoel: Andy Huysamen





