Balfour Hengelklub lede katrol 234 vis in by kompetisie
Verskeie hengelaars het in hul onderskeie afdelings uitgeblink.
Die Balfour Hengelklub het op 7 Februarie sy maandelikse kompetisie by Kees van der Walt se plaas aan die Vaaldam aangebied.
Die dag was ’n sukses, met 26 lede wat deelgeneem het.

Altesaam 234 vis is ingekatrol met ’n gesamentlike gewig van 175,944kg; ’n bewys van uitstekende hengeltoestande en goeie deelname.

In die senior afdeling het Lukas Scholtz uitgestaan met 27 vis wat saam 15,693kg geweeg het.

Johan Dames was kort op sy hakke, ook met 27 vis (13,138kg), terwyl Koos Erasmus derde geëindig het met 18 vis wat 20,066kg geweeg het.

In die damesafdeling het Darell Roos eerste plek behaal met 11 vis (6,924kg). Sarita Scholtz was tweede met nege vis (5,259kg) en Riette Dercksen derde met ses vis (4,366kg).

Stiaan van Rooyen het die junior afdeling gewen met 14 vis (8,924kg). Jayden Nolte was tweede met vier vis (2,486kg) en Tali van der Merwe derde met twee vis (1,113kg).

Die pryse vir die swaarste vis is toegeken aan:
• Swaarste karp: Koos Erasmus (2,673kg)
• Swaarste graskarp: Jaco Nel (5,573kg)
• Swaarste moddervis: André Botha (0,123kg)
• Swaarste baber: Jaco Nel (0,263kg)

Die volgende kompetisie vind op 7 Maart by Draaifontein aan die Vaaldam plaas.
Enige hengelaars wat belangstel om by die klub aan te sluit of meer oor sy aktiwiteite te wete wil kom, kan Lukas Stoltz by 084 757 6058 of Bennie Kriel by 079 888 6052 kontak.



