Nigel Rugbyklub toets hul staal teen Centurion Rugbyklub in Sibanye-Stillwater Superliga
Al het die eerstespan 38–24 verloor, was die wedstryd tot die laaste minuut in die weegskaal en het Nigel se aanvallende spel beïndruk.
Nigel Rugbyklub het op 28 Februarie ’n waardevolle en leersame wedstryd gespeel teen Centurion Rugbyklub by die John Vorster Stadion.
Die kragmeting was deel van die Sibanye-Stillwater Superliga-toernooi en het vir Nigel, wat vanjaar nuut in die kompetisie is, ’n belangrike geleentheid gebied om goeie ervaring op te doen.
Dié blootstelling sal van groot waarde wees namate die span deur die loop van die jaar aan verskeie ligas en toernooie deelneem.
Nigel se eerste span het met 38-24 die onderspit gedelf maar die uitslag was tot die laaste minuut nog in gedrang.
Centurion het in die laaste minuut hul wendrie gedruk.
Die tuisspan het eerste punte aangeteken met ’n strafdoel.
Daarna het Centurion punte aangeteken met ’n drie wat suksesvol verdoel was.
Nigel het daarna twee strafdoele oorgeskop om 9-7 voor te loop.
Centurion het geantwoord met ’n drie en doelskop om weer die voortou te neem.
Daarna het Nigel ’n drie gaan druk en verdoel voordat elke span met ’n strafdoel geslaag het.
Die halftyd telling was Nigel 19 – Centurion 17.
In die tweede helfde het Cenrurion met mening terug geslaan om drie drieë te druk wat aldrie verdoel was en Nigel het een drie gedruk.
Nigel se sterkpunt is aanvallende spel en as hulle dit volhou gaan menige spanne moet regop sit en kennis neem.
Nigel se tweedespan het 31-17 teen Centurion se tweedespan verloor.
Nigel het drie drieë gedruk en een doelskop oorgeskop en Centurion het met vyf drieë en drie doelskoppe geslaag.
Nigel se derde span leer nog om hulle voete te vind en het 45-0 verloor.











