Balfour Hengelklub vang groot by maandelikse kompetisie
11kg Baber tussen amper 300 vis ingekatrol deur die Balfour Hengelklub.
Die Balfour Hengelklub het oor die Paasnaweek van 4 en 5 April hul maandelikse hengelkompetisie by Ardenza aan die Vaaldam aangebied, waar lede uitstekende vangste behaal het.
Altesaam 37 hengelaars het deelgeneem en ’n indrukwekkende totaal van 273 visse met ’n gesamentlike gewig van 206.4 kg is ingetrek.
Die uitblinker van die kompetisie was Ludwig du Plessis, wat die grootste vis van die naweek gevang het; ’n baber van 11.91kg.

Ander noemenswaardige vangste sluit in die swaarste karp van 3.59kg deur Dirk Roos, die swaarste graskarp van 1.34kg deur Mustapha Kahn, die swaarste moddervis van 0.7kg deur Christo du Plessis, en die swaarste geelvis van 0.51kg deur Koos Erasmus.
In die senior afdeling het Theunis Botha die eerste plek behaal met 23 visse wat altesaam 15.78kg geweeg het. Koos Erasmus was tweede met 24 visse van 14.77kg, terwyl Christo du Plessis derde geëindig het met 17 visse en ’n totaalgewig van 10kg.

Onder die vroue het Deidre Nel eerste geëindig met agt visse van 4.96kg. Sue Muller het die tweede plek ingeneem met vier visse van 6.25kg, en Darell Roos was derde met ses visse van 3.7kg.

In die junior afdeling was Ludwig du Plessis weer die uitblinker en het hy die eerste plek behaal met 12 visse wat ’n indrukwekkende 17kg geweeg het. Handré van der Merwe het tweede geëindig met agt visse van 5.12kg, gevolg deur Kallie Kriel in die derde plek met agt visse van 4.53kg.

Die klub se volgende kompetisie vind op 2 Mei by Steyns Vaaldam plaas.
Persone wat belangstel om aan te sluit, kan vir Lukas Stolz kontak by 084 757 6058 of Bennie Kriel by 079 888 6052.



