Karatekas bring armsvol medaljes van Gauteng-kompetisie huis toe
35 Lede (in 61 afdelings) het Gauteng kleure verwerf.

39 Lede van Sensei Bernard Raubenheimer se JKA karateklubs (wat Heidelberg, Balfour en Nigel insluit) het altesaam 43 medaljes in 73 afdelings tydens die Gauteng Provinsiale SAJKA Kampioenskappe wat op 23 en 24 Maart in Ellispark aangebied is, verower. 35 Lede (in 61 afdelings) het Gauteng kleure verwerf.
Sensei Raubenheimer, Karen Raubenheimer en Phillip Venter is gekies om as skeidsregters tydens die nasionale kampioenskappe op te tree. Barbara Pretorius en Christiaan Steenekamp is ook as afrigters van die Gauteng-span aangewys.
Sensei Raubenheimer is trots op die lede wat sedert verlede jaar van 11 medaljes en 17 lede wat vir Gauteng gekies is, tot vanjaar se groottotale gegroei het. Raubenheimer is al 44 jaar by karate betrokke en beskik oor ‘n vyfde Dan. Hy het in 1988 as afrigter gekwalifiseer en het verskeie nasionale kampioene afgerig. Onder sy afrigting het hy meer as 200 lede gehelp om hulle swartgordels te verwerf.
Raubenheimer is ‘n internasionaal gekwalifiseerde afrigter, skeidsregter en eksaminator. Hy het op kompetisievlak al internasionaal sowel as provinsiaal meegeding en is tans hoog as skeidsregter aangeskryf. Hy is sedert 2012 as hoofskeidsregter van Die Styl aangewys en in 2017 was hy die Suid-Afrikaanse SAJKA span se bestuurder. Dié span het aan die Funakoshi wêreldkampioenskappe wat in Ierland aangebied is, deelgeneem.
Raubenheimer sê karate is veral goed om ‘n persoon se konsentrasie, fiksheid, selfvertroue, koördinasie, fokus, sosiale interaksie asook selfverdedigingtegnieke te verbeter. Karate verbeter ook ‘n persoon se motoriese ontwikkeling. Karate deelnemers word geleer om karate se vyf grondbeginsels naamlik karakter, opregtheid, inspanning, gedrag en selfbeheersing uit te leef. Daarom is dit nie vreemd dat meer as 50 hoofleiers in verskillende skole, karate in Heidelberg, Balfour en Nigel beoefen nie.
Hoewel deelnemers aan kampioenskappe deelneem, is dit die uitsluitlike doel om hulle te help om hul swartgordels te bereik.
Enigiemand vanaf die ouderdom van vier jaar is welkom om aan te sluit. Vir meer besonderhede oor die karateklubs kan Sensei Raubenheimer by 083 489 8231 geskakel word.



