Twee hokkie sterre groet Hoër Volkskool finaal
Die twee eerste span spelers, doelwagter en "all rounder" het elke spel met oorgawe aangepak.
Twee Volkies-hokkielegendes het vir oulaas op hul tuisveld op 19 Mei uitgestap in die groen en goud van Hoër Volkskool Heidelberg se eerste hokkiespan.
Een van hulle, Herman ‘Varkie’ Jacobs, was altyd die man tussen die pale.
“Vir vier jaar al daag hy wedstryd ná wedstryd op in sy eerste span doelwagterwapenrusting, gereed om met ongelooflike ratsheid, moed en toewyding sy span se doelhok te beskerm,” het Jeandri Ligthelm gesê, ’n woordvoerder vir die skool.
“Varkie was nie net ’n doelwagter nie; hy was ’n muur waarteen teenstanders hulself vasgeloop het.”
Die ander staatmaker is Div Huisamen, ’n ware “all-rounder”.

FOTO: Jeandri Ligthelm
“Div was ’n speler wat alles op die veld gegee het en altyd bereid was om vir sy span te baklei. Vir Div was HVH-hokkie duidelik belangriker as sy tande, want hy het elke uitdaging met absolute oorgawe aangepak,” het Ligthelm gesê.
“Jou plek gaan volgende jaar baie leeg wees, Div.”
Div speel al drie jaar vir die eerste span, terwyl Herman vir ’n volle vier jaar die wit trots van Volkies-hokkie op sy skouers gedra het. Saam het hulle ’n enorme bydrae tot die sukses van die eerste span gelewer.
“Hul leierskap, karakter en passie vir die spel het ’n blywende merk op Volkies-hokkie gelaat. Julle stap nie net van ’n hokkieveld af nie; julle laat ’n legendariese nalatenskap agter.”



