Michael se gholftoertjies verstom
Michael se skreeusnaakse na-aping van sekere van die wêreld se voorste gholfspelers het groot byval gevind.
Die gewilde gholftoertjiemeester, Michael Scholz, het gholfspelers en toeskouers by die Ermelo Gholfklub verstom met sy vernuf tydens die “Spring Festival”-gholfkompetisie wat oor twee dae gespeel is.
Michael se skreeusnaakse na-aping van van die wêreld se voorste gholfspelers het groot byval gevind, maar dit was veral sy vermoë om met verskillende gholfstokke en vanuit ongewone posisies die bal steeds suiwer en ver te slaan, wat verstom het.
Hy het ook waardevolle raad aan gholfspelers oorgedra en hul vrae rondom verskillende struikelblokke met hul spel beantwoord.
Die algehele wenner van die naweek se kompetisie was Leon Visser wat die beste oor die twee dae gevaar het met ‘n saamgestelde telling van 80 punte.
Gerhard “Oros” van der Walt het tweede geeïndig met 77 punte ná ‘n uittel met I. Mahlangu wat in die derde plek geplaas is.
Die organiseerders bedank graag die hoof borge, Msobo Coal, SG Coal en Isambane Mining en Pro-shop vir hul ondersteuning sonder wie se finansiële hulp en skenkings die toernooi nie sou kon plaasvind het nie.
























