Die Hoëvelder het onlangs klagtes ontvang oor die haglike toestand van meeste van die kragbokse op Ermelo.
Dit het gekom nadat inwoners al vir weke met krag wat tydig en ontydig af is, sukkel. ’n Inwoner was van mening dat as daar instandhouding op die bokse gedoen word, sal die kragprobleme verminder.
’n Rit deur die dorp het getoon dat gevaar mense op sypaadjies oop en bloot inwag en dat daar van instandhouding van die bokse feitlik geen sprake is nie.Van die bokse is al deurtrek met mierneste, terwyl ander bokse se deure afgebreek en weggedra is. Kragbokse is in Generaal Hertzog-straat gesien wat byna uit die grond gery is.

“Die kragbokse hou ’n gevaar in vir kinders wat nie van beter weet nie. Op elke hoek en draai is oop bokse te siene,” het ’n inwoner gesê. “Dit is baie kommerwekkend dat dit toegelaat word dat dié eenhede se toestande agteruitgaan.”
Die kragbokse wat oopstaan, skep ook geleenthede vir onwettige verbindings. Met die reënseisoen wat vinnig besig is om nader te kom, is inwoners bekommerd oor die invloed wat dit op die krag gaan hê.

“Die toestand van die bokse in onaanvaarbaar. Wie gaan verantwoordelikheid neem as iemand wat nie van beter weet nie by een van die bokse dood skok?” is die vraag op almal se lippe.
Volgens mnr. Mandla Zwane, woordvoerder van Msukaligwa Munisipaliteit, is die munisipaliteit bewus van die toestand van die kragbokse en is daar verlede jaar begin om hulle te herstel.
Die herstelwerk is egter weens finansiële beperkings gestaak. Mnr. Zwane het bygevoeg dat ’n begroting opsygesit is om die herstelwerk voort te sit.
Lees ook: Tydelike oplossing vir kragkabels in Nederland Park op Ermelo is steeds nie reggestel nie
“Volgens wet moet alle elektriese toerusting nie maklik toeganklik vir die publiek wees nie, daarom het die munisipaliteit voorsiening gemaak om dit so gou as moontlik te herstel.”
Die munisipaliteit het mense wat elektrisiteitsbokse oopmaak, daarmee peuter of elektrisiteit onwettig verbind, die volle mag van die wet in die gesig staar.
Mnr. Zwane het bygevoeg dat die munisipaliteit tans saam met die polisie werk wat snags patrollie ry om die elektriese toerusting te bewaar. Volgens hom is daar reeds skuldiges in hegtenis geneem en klagte word deur die polisie ondersoek.



