Inwoners van George Bothastraat sit met hul hande in hul hare oor die rioolprobleme wat hulle sedert die begin van die jaar by die munisipaliteit aanmeld.
Volgens hulle is daar in Januarie ’n sloot deur die munisipale werkers gemaak sodat die riool in die sloot kan vloei.
Werkers het toe glo die een luikgat beskadig en net so laat staan.

Tydens die Hoëvelder se besoek, is ons verwelkom met ’n aaklige stank wat in die lug gehang het. Die luikgat is met vullis verstop wat deur voetgangers in die veld afgelaai word.
Inwoners het ook uitgewys dat die stormdreine aan die veld se kant almal toegegroei is, wat die opstoot van die water en riool in die reënseisoen vererger.
“As die wind draai, kan ons nie eers waag om ons deure of vensters oop te maak nie. Geen mens kan met dié stank saamleef nie,” het een van die inwoners gesê.
“Ons staan soggens met dié vreeslike stank op.”
Hulle het gekla dat die rioolwater tot binne hul erwe opstoot in die reërseisoen en dat motoriste wat van die pad gebruik maak, knie diep deur die riool moet ry.
As daar wel werkers van die munisipaliteit uitkom om die verstopte dreine oop te maak, word daar geen poging aangewend om die gemors skoon te maak nie en word dit net so op die straat gelos.
Tydens die Hoëvelder se besoek aan George Bothastraat is daar ook opgelet dat mense besig is met bouwerk in die veld langs die straat.
“Sover my kennis strek is die gedeelte van die veld onder die vloedlyn en mag daar nie gebou word nie,” het een van die inwoners gesê.
Volgens hulle maak die bouers ook gebruik van die rioolwater wat in die sloot vloei om hul boumateriale te meng, omdat daar geen krane in die omgewing is wat tot hul beskikking is nie.
Een van die inwoners het sy kommer uitgespreek ook die gesondheidsrisiko’s wat dié dade vir die mense wat in die huis gaan woon, inhou.
Die Hoëvelder het navraag by Msukaligwa Munisipaliteit gedoen oor die probleme, maar het teen druktyd geen terugvoering van hulle ontvang nie.




