Crime

Drie volwassenes verskyn in Ermelo-landdroshof ná minderjarige se beweerde verkragting

Die beskuldigdes moet weer op 16 November verskyn nadat reëlings vir ’n ander landdros en aanklaer nodig geword het.

ERMELO – Drie volwassenes is op 6 November in verband met die beweerde verkragting van ’n minderjarige in hegtenis geneem.

Die twee mans en ’n vrou het op 9 November vir die eerste keer in die Ermelo-landdroshof verskyn, waar die saak tot 11 November uitgestel is.

Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, het op 9 November aan die Hoëvelder bevestig dat ’n verkragtingsaak geopen en drie verdagtes in hegtenis geneem is.

“Die polisie kan nie verdere inligting bekend maak nie, aangesien die saak ’n minderjarige betrek en reeds voor die hof dien.”

Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder

Die vrou is tydens die eerste verskyning op borgtog vrygelaat, maar die twee mans het in aanhouding gebly.

Al drie het weer op Woensdag, 11 November, in die hof verskyn, waar borgtogverrigtinge na verwagting sou plaasvind.

Die verrigtinge het egter ’n onverwagse wending geneem toe die voorsittende landdros besluit het om hom in belang van geregtigheid aan die saak te onttrek.

Hy het verwys na die aandag en belangstelling wat die saak plaaslik geniet en aangedui dat hy van voorneme is om ’n landdros van buite die Ermelo-jurisdiksie te laat kom om die saak verder aan te hoor.

Volgens die landdros moet reëlings ook getref word om ’n aanklaer van buite die gebied by die verrigtinge te betrek.

Die verdediging het daarna navraag gedoen oor hoe lank dit sou neem om die nodige reëlings af te handel.

Hul het voorgestel dat die saak tot Vrydag, 13 November, uitgestel word.

Die landdros het verduidelik dat hy wel op kantoor sou wees, maar dat dit nie noodwendig beteken dat die reëlings reeds die volgende dag afgehandel sou wees nie.

Hy het Maandag, 16 November, as ’n meer geskikte datum beskou.

Die saak is gevolglik amptelik tot dié datum uitgestel sodat die nodige reëlings vir ’n landdros en aanklaer van buite die gebied getref kan word.

Die twee mans is weer in aanhouding teruggestuur, terwyl die vrou op haar bestaande borgtog vry bly.

Geen borgtogverrigtinge het op 11 November plaasgevind nie.

Enigiemand wat moontlik ook ’n slagoffer is of oor inligting beskik wat met die ondersoek verband kan hou, word versoek om die ondersoekbeampte XPG Gama by 076 765 6975 óf lt. kol. Corné Kemp by 082 922 9243 te kontak.

Redakteursnota: Waarom die Hoëvelder sekere besonderhede weerhou

Die Hoëvelder is bewus van die groot belangstelling wat die saak onder inwoners ontlok het, asook navrae oor waarom daar nie reeds breedvoerig oor die inhegtenisnemings en hofverrigtinge berig is nie.

Hoewel die publikasie die publiek se reg op inligting erken, geld bepaalde wetlike beperkings vir beriggewing oor beweerde seksuele misdrywe, veral wanneer minderjariges betrokke is.

Artikel 154 van die Strafproseswet 51 van 1977 beperk die publikasie van sekere inligting oor aanklagte van seksuele misdrywe voordat ’n beskuldigde formeel gepleit het.

Die wet beskerm ook die identiteit van minderjarige klaers, insluitend teen die bekendmaking van besonderhede wat tot die indirekte identifisering van ’n kind kan lei.

Vervolgens word sekere besonderhede op regsadvies weerhou. Beriggewing in meer besonderhede, sal volg sodra dit regtens geregverdig is.

Die bekendmaking van volwasse beskuldigdes se name word nie noodwendig deur die wet verbied nie. Die aard van die inligting, die stadium van die hofverrigtinge en enige toepaslike hofbevele moet egter oorweeg word.

Die Hoëvelder het daarom besluit om sekere besonderhede voorlopig te weerhou terwyl die toepaslike wetlike vereistes en hofrekords nagegaan word.

Die besluit is nie daarop gemik om enige beskuldigde teen openbare kritiek te beskerm nie, maar om die regte van alle betrokkenes te respekteer, die minderjarige te beskerm en akkurate, verantwoordelike beriggewing te verseker.

Alle beskuldigdes word as onskuldig beskou totdat hul skuld bo redelike twyfel in ’n hof bewys is.

Die Hoëvelder sal voortgaan om die hofverrigtinge te volg en oor verdere verwikkelinge berig namate inligting bevestig en regtens gepubliseer kan word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Wayne van der Walt

Wayne van der Walt, with around 15 years in the media industry, is editor of Highvelder Newspaper. His accolades include Frewin Awards for Newspaper of the Year and Front Page of the Year, and FCJ Photographer of the Year, among other honours.

Related Articles

Back to top button