Oom Topflite sal gemis word
Sy naam verskyn ook op die ererol van die klub.
Oom Pierre Hugo (85) wat vir 25 jaar die Hoëvelder se gholfrubriek onder die skuilnaam “Top Flite”hanteer het, is op Donderdag, 1 Maart oorlede.
Oom Pierre het op Springs grootgeword en sy hoërskoolloopbaan aan die Brits Landbou Hoërskool voltooi.
Sy eerste werk was as posman waarna hy as meterleser vir die munisipaliteit gewerk het.
Daarna het hy by goudmyne aan die Rand gaan werk.
Hy is intussen met sy eerste vrou, Anna getroud en een dogter is uit hul huwelik gebore.
Die provinsiale verkeer op Nigel was sy volgende werkstop.
Sy gesin was vir hom so belangrik dat hy om gesinsredes sy werk as Provinsiale Verkeershoof laat vaar het om die munisipale pos as Hoof van Lisensie en Verkeer te aanvaar en daar gewerk het tot en met sy aftrede in 1995.
Intussen is hy geskei en in Desember 1970 is hy met tannie Pietie, soos sy bekendgestaan het, getroud en hulle het in 1971 Ermelo toe getrek.
Sy was ’n weduwee met twee kinders en nog drie kinders is uit sy tweede huwelik gebore.
Oom Pierre was baie lief vir sport en het klubrugby tot hy 35 jaar oud was, gespeel.
Hy het ook korfbal en jukskei gespeel en later die liefde van sy lewe, gholf, ontdek en was sedert 1974 lid van die Ermelo Gholfklub.
Hy het sy laaste gholfwedstryd op sy 80-ste verjaaarsdag gespeel en vir baie jare op die bestuur van klub gedien.
Sy naam verskyn ook op die ererol van die klub.
Hy was besonder lief vir blokkieraaisels invul en het dit sonder die hulp van boeke gedoen.
Dit het hom ook groot vreugde verskaf om sy kinders met hul skoolwerk en take te help.
Oom Pierre het met kanaries geteel en later met hoenders geskou en baie pryse op hoenderskoue gewen.
Ná tannie Pietie se afsterwe, het hy by sy dogter Catherine gewoon, maar het die laaste 10 maande van sy lewe in die SAVF-tehuis deurgebring.
Hy het op 6 Februarie ’n beroerteaanval gehad.
Die familie het die personeel van die Ermelo Mediclinic, wat hom in sy laaste dae bygestaan het, die personeel van die SAVF-tehuis, en ds. Dif wat deur al die moeilike tye altyd daar was, bedank.
Hulle het ook Doves vir bystand en elkeen wat gehelp het met die verversings by die roudiens bedank.
Elke oproep, SMS, whatsApp en persoonlike meegevoelbetuiging word waardeer.
Oom Pierre het baie vriende onder die Indiërgemeenskap gehad en sy familie het hulle vir hulle ondersteuning en opregte vriendskap oor die jare bedank.
Oom Pierre word oorleef deur vyf kinders, 10 kleinkinders en vier broers.
’n Roudiens het op Donderdag, 8 Maart in die NG Kerk de Bruinpark plaasgevind.



