Local newsNews

Huis senior se ‘ma’ tree af

Sy het die tuiste 18 jaar gelede begin nadat haar dogter verdrink het

ANNATJIE du Preez het einde Januarie met pensioen by Huis Senior afgetree.

Sy het die huis in 1996 vir 12 selfversorgende bejaardes geopen nadat haar dogter, Lizelle, op 19 by Badplaas verdrink het.

Sy het na haar kind se dood gevoel sy wil iets positief vir ander doen toe die Here dit op haar hart gelê het om hierdie huis te begin.

Sy en haar man, Faan het hul huis in Baobabstraat in Birchleigh verander om bejaardes te versorg en het na Glen Marais verhuis.

Haar skoonma, Marie du Preez, was die eerste inwoner van Huis Senior.

Om bejaardes te versorg het weer sin aan haar lewe gebring. Sy het gevoel daar was ‘n behoefte in die gemeenskap vir ‘n plek soos Huis Senior. Dit is ‘n kleiner groep en meer huislik.

Die huis se inwoners het deur die jare aan die gemeenskap deur hul breiwerk teruggegee. Hulle het Casa Caritas se inwoners en kinders van verskeie welsynsorganisasies van mussies, bedkouse, komberse en truie voorsien. Hulle het wol gebruik wat mildelik deur die gemeenskap geskenk is.

Die egpaar het twee en ‘n half jaar gelede besluit om Huis Senior aan die NG Barmhartigheidsdiens te skenk. Sy het sedertdien die huis namens hulle bestuur.

Wat die toekoms van Huis Senior betref, sê Annatjie daar word tans onderhandel om die tuiste as satelliethuis van Herfsland te bestuur. Niks is in hierdie stadium nog gefinaliseer nie.

Annatjie het in Pretoria grootgeword en skoolgegaan. Na skool het sy by die distriksgeneesheer se kantore gewerk, asook as onvangsdame by Trustbank en by HF Verwoerd-hospitaal.

Na dr Faan se hospitaaljaar en weermagopleiding het hulle hulself in 1971 in Kemptonpark gevestig.

Annatjie sê met haar aftrede sal sy haar stokperdjies beoefen. Dit is om onder meer mooi goed en juwele te maak, te brei, hekel en naaldwerk te doen. Sy kan nie stilsit nie en sit selfs en brei as sy TV kyk.

“Ek wil ook meer lees en lank gaan vakansie hou en meer rolbal speel,” sê sy.

Annatjie se grootste wens is dat Huis Senior van krag tot krag sal gaan in diens van ons bejaarde inwoners.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button