
‘n Vrou van Birch Acres wat laasweek Woensdag die slagoffer van ‘n tref-en-trap-ongeluk in Elginweg was, is steeds in Tembisa Hospitaal.
Hoewel daar aanvanklik gedink is dat Christine Oberholzer (58) se een voet net lig beseer was, het dokters ontdek bykans die hele voet is vergruis
Oberholzer se suster, Marie Coetzee, het aan EXPRESS gesê dat haar suster reeds Maandagoggend rekonstruktiewe chirurgie ondergaan het. Sy het ook beserings aan haar kuit opgedoen.
Oberholzer was op pad na die Glen Acres Spar waar sy werk toe die voertuig haar getref het. Die voorval het omstreeks 6vm gebeur nadat ’n taxi Oberholzer by die verkeersligte bo in Mooirivierrylaan afgelaai het. Sy het oor die pad geloop in Elginweg se rigting.
Volgens Coetzee moes die voertuig wat haar getref het die rooi verkeerslig by die kruising van Mooirivier- en Elginweg verontagsaam het. Die bestuurder het weggery in die rigting van Soutpansbergweg.
“My suster is uit haar skoene gery en toe sy wou opstaan, het sy gevoel daar is iets fout met haar been. Sy het haarself tot op die sypaadjie gesleep en my om 6.30vm gebel om hulp te ontbied,” het Coetzee gesê.
“Ek dank net die Vader dat hy haar nie vol getref het nie. Die beserings aan haar voet en been is erg, maar ons is baie dankbaar dat sy nog leef.”
