Local newsNews

Egpaar vier 66 jaar van getroude lewe

Hulle het ontmoet toe hy haar van verdrinking gered het tydens 'n piekniek

RITA (87) en Willem (89) Snyman vier op 2 September hul 66ste huweliksherdenking, asook Willem se 90ste verjaarsdag.

Die egpaar vier nie net hierdie twee mylpaal-gebeurtenisse nie, maar ook die feit dat Willem al vir 90 jaar ‘n inwoner van Kemptonpark is.

“Ek is hier gebore en hier gelaat staan. Ek is in ons plaashuis gebore wat my ouers tydens die Boere-oorlog in die vroeë 1900’s gebou het. Dit is 400m vanaf my huidige huis – ons beeskraal was oorkant die pad van ons,” vertel Willem.

Die egpaar woon al vir 50 jaar in hul Trrenure-huis waar al vier hul kinders grootgeword het. “Ons het mekaar in 1948 ontmoet toe Willem my gered het nadat ek amper verdrink het,” vertel Rita.

Rita en vriende het gaan piekniek hou by die rivier by Hartbeespoortdam toe die stroom haar ingetrek het. Willem het haar sien spartel en haar uit die stroom gered. “Dit is waar die romanse begin het,” lag Willem.

WILLEM en Rita Snyman op hul troudag op 2 September 1950.
WILLEM en Rita Snyman op hul troudag op 2 September 1950.

Rita het in Hofmeyer in die Karoo grootgeword en is in 1947 na Transvaal verplaas om vir die poskantoor te werk. Willem het dieselfde tyd sy ambag klaargemaak en in 1950, nadat die egpaar getroud is, vir 34 jaar vir KCP in Kemptonpark gewerk.

“Ons het in 1950, na ons troue, in ‘n fabriekshuis gebly op die perseel waar Willem gewerk het, want ons was besig om ons huidige huis te bou,” vertel Rita.

Rita het in 1964 ophou werk nadat haar eerste kind, Willem, gebore is en sy het die rol van huisvrou volgestaan. Willem het in 1984 afgetree na jare se harde werk en toewyding.

“Ons is baie geseënd met wat ons het en nog altyd gehad het. Ons kan glad nie kla oor ons lewe nie en het baie goeie herinneringe van vakansies regoor die land en baie lag saam met familie en vriende. Ons het wonderlike kinders, kleinkinders en agterkleinkinders wat ons gereeld sien en baie lief voor is. En dan het ons natuurlik ook vir mekaar en al ons dinge rondom die huis om ons besig te hou,” vertel Willem.

Rita hou haarself besig met beskuitbak, hekel en blokkiesraaisels invul, en Willem doen nog al die jare staalwerk en is lief om met sy hande te werk.

“Soms is ons so besig dat ons nie genoeg tyd in een dag het om by alles uit te kom nie. Ons hou daarvan om besig te bly,” sê Rita.

Die egpaar sê dat hul die meeste hou van mekaar se geselskap en hulle huis. Hul raad aan ander egpare is om mekaar lief te hê, geduldig te wees met mekaar en alles met mekaar te deel.

“Liefde oorwin als,” sê Rita.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button