Local newsNews

12-jarige reël kersboom vir minderbevoorregte skoolmaats

Op die oomblik is hy besig om nog skryfbehoeftes vir die kinders bymekaar te maak

XANDER Blaeser (12) van Laerskool Bredell, het laasjaar op sy eie stoom ‘n kersboom vir minderbevoorregte kinders gereël.

Die meeste van die kindertjies is saam met hom op skool.

Nie net het hy vir elke kind ‘n geskenk en ietsie lekkers gegee om te eet nie, maar ook die ouer ooms en tannies het ‘n lekker bederfgeskenk gekry en elke vrou ‘n boek.

Xander en sy oupa het die borge gaan sien, maar Xander het die praatwerk gedoen. Hy het ook familie en vriende gevra vir bydraes om sy droom waar te maak.

Op ‘n vraag van sy ouma Eleen hoekom hy dit wil doen, het hy geantwoord: “Ek is baie geseënd en enige kind wil graag ‘n geskenk vir Kersfees kry. Ek wil graag my seëninge met ander kinders deel.”

Hy het baie hard gewerk om dit waar te maak. Elke geskenk is met die grootste sorg toegedraai. Koek is gebak en koeldrank aangemaak. Ouma het kos ge-

maak en gehelp geskenke toedraai.

Hy het die kinders op Oukersmiddag verras. Sy oom Rudolf Blaeser was Kersvader en hy het sy nefies, Chase en Nicholas, opgekommandeer om ook te help.

Die plaaslike borge wat sy saak ondersteun het was Bredell Spar, Pawn Boys en Engen Bonaeropark.

Op die oomblik is hy besig om nog skryfbehoeftes vir die kinders bymekaar te maak, nadat Engen Bonaeropark vir hom skryfbehoeftes geskenk het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button